Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
'Desember sal propvol netbal wees'

Spelers kan hulle maar vir netbal tot diep in Desember gereed maak.

Suid-Afrikaanse netbal se twee vernaamste toernooie – die nasionale liga en die nasionale kampioenskap – sál vanjaar plaasvind én die Proteas sal toetse speel.

Cecilia Molokwane, president van Netbal Suid-Afrika (NSA). Foto: BackpagePix

Cecilia Molokwane, president van Netbal Suid-Afrika (NSA), het dié versekering Maandag op ’n nuuskonferensie gegee.

Molokwane sê NSA is dit aan Spar en Telkom, sy twee hoofborge, verskuldig om dié toernooie aan te bied.

Die netbalseisoen kon weens die Covid-19-pandemie nog nie begin nie.

Spel sal op nasionale vlak begin, dan na provinsiale en distriksvlak en daarna eers klubnetbal skuif, sê sy.

“Ons kan nie netbal vir almal oopstel voordat ons nie eers weet of dit haalbaar gaan wees nie.”

Telkom se nasionale liga vir streekspanne moes verlede maand begin het, maar naweke in September en Oktober, of November en Desember is nou die volgende opsies.

Selfs die nasionale kampioenskap kan nog in Desember gespeel word, sê Molokwane.

Dié toernooi vir distrikte is vir vroeg in Augustus in Stellenbosch gereël.

“Ons kyk na die Covid-infeksiekoers in die Wes-Kaap. Die toernooi kan dalk na ’n ander provinsie geskuif word,” sê Molokwane.

Of dit nou reën, hael of sneeu die nasionale liga sal wel plaasvind – met of sonder toeskouers, sê die netbalbaas.

Wedstryde in dié reeks sou in Limpopo, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal plaasgevind het, maar een stad is nou meer waarskynlik, sê Molokwane.

Die Proteas sal in die Diamant-uitdaagreeks teen twee of drie spanne in aksie wees. Dit is gewoonlik Afrika-spanne wat in dié reeks speel.

“Ons het reeds vroeg vanjaar met Jamaika en Malawi gesels,” sê Molokwane.

Danielle van Zyl van die Jaguars word uitgedaag deur die Stings se Jo Prins in verlede jaar se eindstryd van die nasionale liga in Pretoria. Foto: BackpagePix

Die Proteas se Viernasiesreeks, wat in September teen Australië, Nieu-Seeland en Engeland sou plaasvind, is die naweek afgelas. Dus sal die Diamant-uitdaagreeks hul enigste aksie wees.

As ’n kontaksport sal netbal eers op vlak 1 gespeel mag word.

Molokwane sê die spel is nie verhewe bo die gesondheid en welstand van sy spelers nie.

“Ons moet na ons spelers omsien, want van hulle gaan volgende jaar aan die Wêreldjeugtoernooi (vir o.21’s) en aan 2023 se Wêreldbekertoernooi deelneem,” sê sy.

Die netbalbaas sê werk gaan volstoom voort vir dié skouspel, wat in Kaapstad gaan plaasvind.

“Ja, Covid-19 het baie dinge vertraag, maar ons voer tans onderhoude vir die pos van projekbestuurder. Daarna sal die plaaslike reëlings- en ander komitees aangestel word.”

* Intussen het die Proteas hul vyfde plek op die wêreldranglys behou. Jamaika het danksy sy tweede plek in Januarie se Nasiesbeker opgeskuif tot nr. 3 opgeskuif en Engeland het na die vierde plek afgeskuif.

Australië is in die voorste posisie en Nieu-Seeland is tweede.

Meer oor:  Nsa  |  Netbal  |  Netbal Suid-Afrika  |  Protea-Netbalspan  |  Proteas  |  Nasionale Netballiga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.