Die bokser Ryno (Die Leeu) Liebenberg het besluit om al die geld wat hy uit sy komende geveg teen Rowan Campbell gaan verdien, aan kinderwelsyn te skenk.

Ryno (Die Leeu) Liebenberg wil graag iets doen om behoeftige kinders te help. Foto: Getty Images
Liebenberg en Campbell gaan mekaar op 13 Maart in Emperors Palace in Kempton Park in ’n geveg in super-middelgewigafdeling pak.
Volgens Liebenberg sal dit sy laaste geveg in die land teen ’n plaaslike teenstander wees. Daar is ’n moontlikheid dat hy daarná nog ’n keer in die buiteland sal veg.
“Dit sal my laaste groot derby teen ’n plaaslike teenstander wees, en in die lewe moet jy weet wanneer om iets terug te gee,” het hy aan SA Boxing Talk gesê.
“Ek sal my volle beursgeld vir die geveg skenk aan ’n kinderwelsynsorganisasie of iemand wat na kinders omsien.
“Ek het nog nie besluit wie dit sal wees nie. Dit kan dalk meer as net een mens of organisasie wees.”
Liebenberg het ook die publiek genooi om hom in sy onderneming te ondersteun.
“Ek sal met ’n wit broek boks en ek sal persoonlik elkeen wat ook iets skenk, of dit nou R5 of R500 is, se naam op my broek skryf,” het die bokser gesê.
Liebenberg het ook ’n boodskap vir Campbell gehad: “Ek hoop jy oefen hard, ou seun. Trek jou grootmens-broek aan. Ek is nie een van daardie ouens wat met jou gaan speel nie, ek gaan met jou baklei,” het hy gesê.
Mense wat by sy projek betrokke wil raak, kan hom op sy Facebook-blad kontak.
• Die voormalige veergewigbokser Lawrence (Slow Poison) Ndzondo (80) is volgens Ink Sport Woensdagoggend oorlede.
Ndzondo was veral ’n gewilde bokser in Port Elizabeth, waar hy gereeld in die Centenary-saal in New Brighton geboks het.
Sy boksloopbaan het van 1965 tot 1971 gestrek en hy het 24 beroepsgevegte gewen, 15 verloor, met nog een wat gelykop was.