Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Die mooi seuns met dinamiet in hul vuiste

As jy vir Brandon Figueroa of Ryan Garcia in ’n kroeg ontmoet, en jy weet nie wie hulle is nie en hulle vertel jou dat hulle vir geld boks, sal jy hulle dalk openlik in hul gesigte uitlag.

Want kyk, dis mooi seuns daardie. Is boksers dan nie veronderstel om platneuse en geswolle oogbanke te hê nie?

Raai watter een is Brandon Figueroa? Figueroa en Yonfrez Parejo poseer vir die fotograwe voor hul geveg ’n paar jaar gelede. Figueroa het met ’n tegniese beslissing in die agtste ronde gewen. Foto: Getty Images

Mike Tyson, dis mos hoe ’n bokser lyk, man. Mike Tyson en Mike Schutte. Manne soos Manny Pacquiao, ja. Jy kan mos sommer sien húlle weet hoe om appels te swaai.

Maar Brandon Figueroa en Ryan Garcia? Dis regtig moeilik om te glo.

Figueroa is 24 jaar oud en hy is reeds die Wêreldboksvereniging se super-kapokgewigkampioen.

Hy boks juis hierdie naweek in Carson in Amerika teen die Wêreldboksraad se kampioen, Luis Nery van Mexiko.

Dis moeilik om te glo dat Ryan Garcia ’n bokser is! Foto: Getty Images

Garcia is 22 jaar oud en word deur die gesaghebbende Ring-tydskrif as een van die beste liggewigte in die wêreld beskou.

In sy laaste geveg in Januarie het hy vir Luke Campbell van Brittanje in die sewende ronde met ’n tegniese uitklophou verslaan.

Figueroa en Garcia is albei van Mexikaanse afkoms, maar het Amerikaanse burgerskap. Albei van hulle is ook baie aktief op sosiale media en het duisende volgelinge op Instagram en Facebook.

Dan, as ons by die bokstoernooi gekom het, het die meisies geskree: ‘Kyk, die hartebreker is hier!’

Figueroa se bynaam is “die Hartebreker”.

“Die bynaam kom van die dae toe ek en my ouer broer (Omar) in Mexiko gaan boks het. Ons huis was net 20 minute van die grens af en elke keer as ons by die grenspos gestop het, het die doeane-beamptes ons ondervra. Omdat ek die enigste een in die gesin is met blou oë, het hulle gedink my ma het my ontvoer. Dan, as ons by die bokstoernooi gekom het, het die meisies geskree: ‘Kyk, die hartebreker is hier!’ En toe het my pa my ‘die Hartebreker’ begin noem,” het Figueroa aan NY Fights vertel.

’n Mens kan aanneem dat Figueroa se verdediging goed is, want sy gesig wys nie die letsels van al die oorloë waarin hy al in die kryt was nie. En hy was al in baie! Hy boks al vandat hy drie jaar oud is.

“Toe ek so agt of nege jaar oud was, was ek nie meer baie lus vir boks nie, want daar was ’n ander seun in dieselfde klub as ek wat my altyd laat huil het wanneer ons teen mekaar geskerm het,” onthou Figueroa.

Met sy broer en pa se aanmoediging het hy egter harder begin oefen en ’n jaar later was dit hy wat die ander seun in die skermkryt laat huil het!

Figueroa en Julio Ceja slaan die wit waks uit mekaar uit in hul geveg in 2019 in Las Vegas. Die twee het gelykop geboks. Foto: Getty Images

Figueroa is nes sy broer Omar ’n bokser wat baie houe slaan. Volgens die statistieke slaan hy gereeld 100 of meer houe per ronde.

“Dis ’n Mexikaanse styl van boks en ek is mal daaroor. Ek dink dis lieflik as jy iemand sien wat ’n groot verskeidenheid kombinasies en houe kan slaan,” sê Figueroa.

Omar is sewe jaar ouer as hy. Omar is nie so ’n aantreklike kalant soos hy nie, maar was weliswaar ook al ’n wêreldkampioen, wat met die Wêreldboksraad se liggewigtitel kon spog.

Die ouer Figueroa se loopbaan begin egter nou einde se kant toe staan en hy het sy laaste twee gevegte verloor.

Garcia, wat ná 21 gevegte in die geldkryt nog onoorwonne is, se bynaam is “The Flash” en dit is nie omdat hy so maklik sy tande met ’n glimlag laat flits nie.

Hy is besonder krytvaardig en beweeg soms soos ’n danser om sy teenstander. Hy is ’n besonder harde slaner en het 18 van sy oorwinnings met uitklophoue behaal.

Ten spyte van sy ongelooflike talent het Garcia ook al in sy kort lewe met sy selfvertroue gesukkel. Verlede jaar het hy in ’n onderhoud met talkSport vertel dat hy paniekaanvalle gekry het toe hy 17 jaar oud was.

Hy het ook ’n paar weke gelede weens “geestesprobleme” aan ’n toernooi op 9 Julie onttrek, waar hy teen Javier Fortuna sou baklei.

Romero Duno vind tot sy spyt uit dat die aantreklike Ryan Garcia dinamiet in sy vuiste het! Foto: Getty Images

Interessant genoeg het die boksgemeenskap hom oor die talentvolle jongeling ontferm en volgens talkSport het selfs Teofimo Lopez, die liggewigkampioen, daaroor ’n twiet uitgestuur: “Dit neem ’n dapper persoon soos Ryan Garcia om openlik te vertel dat hy geestelik deur moeilike tye gaan”.

Daar is diegene wat dink Garcia se geestesprobleme het iets met die baie mooi meisies in bikini’s – waarmee hy homself graag omring – te doen.

Garcia is iemand wat daaraan glo om gesond te eet en hy glo dat kalkoen iets is waaraan ons almal meer kan peusel.

Volgens Men’s Health begin hy sy dae met ’n botteltjie Yakult (’n Japannese probiotiese melkskommel). Ná ’n kort draffie van 5 km sit hy aan vir ’n ontbyt, wat bestaan uit roosterbrood, avokadopeer, ’n kalkoenborsie, kaas, ’n gebakte eier en lemoensap.

As hy deur die loop van die oggend honger word, smul hy aan ’n paar gekookte eiers.

Vir middagete verkies hy gemaalde kalkoenvleis met salsa, guacamole, rys en slaai.

Garcia drink ook baie water en hy steur hom nie veel aan aandete nie.


Meer oor:  Boks  |  Brandon Figueroa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.