Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Die sanger, die bokser en hul verbode liefde

Vrouedag is mos vandeesweek gevier, so dit is dalk die regte tyd om oor die legendariese Franse sangeres Édith Piaf te skryf.

Edith Piaf

Édith Piaf, die Mossie van Parys, op die sportblaaie? Dit kan tog nie – of kan dit?

Natuurlik kan dit. In 1948 en 1949 was Piaf en die bokser Marcel Cerdan sommer gereeld saam op die voorblaaie, vergeet van die sportblaaie!

Piaf en Cerdan, wat in Algerië gebore en in Marokko begin boks het, het mekaar al in 1946 in Parys in die Club des Cinq ontmoet.

“Sy oë is nie soos die ander s’n nie,” het Piaf aan haar halfsuster Simone Berteaut gesê.

Nou moet julle weet, Piaf het nie van boksers gepraat nie, maar van mans in die algemeen. En Piaf het mans geken. Volgens Berteaut was Piaf heeltemal seksmal en ’n taamlike losbolletjie. Hou ook in gedagte dat sy van haar kinderjare in ’n bordeel deurgebring het.

So, sy het geweet hoe mans na vroue kan kyk. Julle weet mos, sommige mans kry mos slang-ogies as hulle na vroue kyk. Of hulle oë word wild, barbaars . . . maar nie Cerdan se oë nie.

Cerdan het ’n teerheid in sy oë gehad wat Piaf se knieë geknak het. Of was dit nou al die sjampanje?

Teen 1948 het Piaf en Cerdan al ’n vurige verhouding gehad. Cerdan, met al die teerheid in sy oë, het egter aan haar gesê hy wil nie van sy vrou, Marinette, skei nie.

In September 1948 kry Cerdan eindelik die kans om in New York teen Tony Zale vir die middelgewigtitel van die wêreld te boks. Piaf reël toe dadelik dat sy gedurende dieselfde tyd in New York by die Versailles-teater in dieselfde stad sou optree.

Cerdan se oefenkamp was buite die stad. Sy afrigter was streng, maar Cerdan het Piaf en Berteaut in ’n motor se kattebak by die oefenkamp ingesmokkel en hulle het toe in ’n hut naby syne weggekruip.

In die aand het Cerdan vir die twee vroue toebroodjies, wat hy onder sy hemp weggesteek het, gebring. Al wat daar te drinke was, was yskoue kraanwater.

“Sien jy hoe lief het ek Marcel? Ek drink nou al kraanwater. Dit sal seker nog my dood veroorsaak,” het Piaf aan haar suster gesê.

Berteaut het maar na die praatjies geluister en in die nag het sy haar ore toegedruk wanneer Piaf en Cerdan intiem verkeer het.

Vir twee weke het dit so aangegaan. Toe druk Cerdan die twee vroue weer in ’n motor se kattebak en neem hulle na ’n hotel, want Piaf moes toe in die Versailles begin optree.

Teen hierdie tyd het joernaliste al lankal geweet dat Cerdan en Piaf met mekaar vry en die bokser is in die koerant gewaarsku dat sy gekafoefel hom duur te staan kan kom.

“Hy vry te veel en oefen te min!” is dit uitbasuin.

Die aand van die geveg was Piaf en Berteaut ’n paar rye van die kryt af. Teen die einde van die eerste ronde het Cerdan swaar asemgehaal. Was die joernaliste reg? Sou hy die pas nie kon volhou nie?

In die vierde ronde het Zale rof geraak. Piaf het hardop vir St. Teresa gesmeek om Zale “seer te maak”.

“Sy (Piaf) het die ou voor haar op die kop geslaan. Dit het gelyk asof hy dit nie eens agtergekom het nie, of as hy het, het hy gemaak asof hy dit nie voel nie,” vertel Berteaut.

Tot baie mense se verbasing was dit Cerdan wat sterk geëindig het en Zale kon nie vir die 12de ronde uitkom om voort te veg nie.

Die Franse vlag is rondgeswaai en “La Marseillaise” is gespeel. Maar Piaf het nie saamgesing nie. Sy was bleek en stom. Boks was duidelik nie haar gunstelingsportsoort nie.

Ongeveer ’n jaar later is Cerdan deur Jake La Motta in Detroit onttroon. La Motta, ook bekend as The Raging Bull, het Cerdan in die eerste ronde teen die krytvloer neergesmyt en die Franse boksheld het sy skouer ontwrig. Hy het egter voortgeveg tot die negende ronde, toe die pyn hom uteindelik ondergekry het.

“Dit was Edith Piaf se skuld!” het die koerante dit uitbasuin.

“Moenie na hulle luister nie. Dis waar dat ek nie op dreef was nie, maar dit gebeur maar die een of ander tyd met alle boksers,” het Cerdan sy tenger sangeressie probeer troos.

In Oktober 1949 is Piaf weer New York toe vir optredes. Cerdan sou haar weer daar op ’n spesifieke datum ontmoet, maar sy het kwaai verlang.

“Kom dadelik. Kom met die volgende vliegtuig. Maak gou!” het sy hom gesmeek.

“Goed. Ek sal môre by jou wees. Ek het jou lief,” het hy belowe.

Dit was die tortelduifies se laaste woorde aan mekaar. Die vliegtuig waarin Cerdan was, het in die Portugese Azore-eilande wes van Marokko teen ’n berg gebots. Cerdan en nog 47 mense is in die ongeluk dood.

Piaf het toe heeltemal kop verloor. Sy het daardie aand wel opgetree en die mense na trane gedryf met haar hartroerende sang.

Volgens Berteaut het haar suster in die dae wat gevolg het kwaai aan die drink gegaan en Cerdan se gees deur middel van ’n medium wat in “tafelklop” spesialiseer probeer kontak. Toe dit nie werk nie, het sy liefde gesoek by omtrent elke man wat sy ontmoet het.

Marinette, Cerdan se weduwee, het Piaf onverwags na Casablanca in Marokko, waar sy gewoon het, genooi. Daar het die twee vroue op mekaar se skouers gehuil en ’n vreemde vriendskap begin.

Cerdan se drie kinders het Piaf “Auntie Zizi” genoem. Een van hulle, Marcel, genoem na sy pa, sou in ’n bisarre wending later sy pa in ’n biografiese fliek gegrond op Cerdan en Piaf se verhouding speel.

Bron: Piaf deur Simone Berteaut.

Meer oor:  Parys  |  Boks  |  Vrouedag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.