Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Die Vader van SA Boks
BO: James R. Couper in die gevegsdrag van destyds. REGS: ’n Kryt was sommer enige beskikbare ruimte wat met ’n paar toue afgekamp kon word. Foto’s: MUSEUM AFRICA

Die Kaapse sport-historikus prof. Floris van der Merwe roep die vervloë dae van Suid-Afrikaanse boks in herinnering in sy nuutste boek. Gert van der Westhuizen vertel meer van James R. Couper:Vader van Suid-Afrikaanse Boks.

Hedendaagse boksers sal, nodeloos om te sê, glad nie die wêreld herken waarin Couper en ander hul gevegskuns teen die einde van die 19de eeu in Suid-Afrika ten toon gestel het nie.

Boks in daardie dae was amper iets primitiefs in vergelyking met die glans, geld en publisiteit wat ’n mens deesdae met dié sportsoort vereenselwig.

’n Kryt was dikwels sommer net ’n vierkant wat met toue op enige beskikbare ruimte afgebaken is. Gevegte kon met “sagte” handskoene, “harde” handskoene of selfs sonder enige handskoene beslis word.

Daar was twee stelle reëls en die owerhede was dikwels nie gretig om toestemming vir boksgevegte te gee nie; veral nie wanneer geld ter sprake was nie.

Tog was daar min wat die manne destyds van stryk gebring het terwyl hulle boks as sportsoort gevestig het in die harde pionierswêreld van avonturiers en fortuinsoekers in stede soos Kimberley en Johannesburg.

Dit is ’n wêreld wat Van der Merwe meesterlik herskep ná speurtogte in plaaslike en oorsese argiewe. Hy het ook koerante en ander publikasies van destyds saam met moderne hulpmiddels soos die internet gebruik om te wys hoe sportgeskiedenis nou eintlik geskryf moet word.

Ondanks al sy snuffelwerk, sê Van der Merwe, is die legkaart van Couper se lewe nog onvolledig.

Maar tog vertel hy jou in onderhoudende trant heelwat van Couper se lewe.

Hy en die boksers van die 19de eeu, kom jy agter, was nie sommer gewone mense nie; allermins. Vandag se boksers sal min van hulself in iemand soos Couper herken.

Hy het byvoorbeeld die werke van skrywers soos Walter Scott, George Eliot, Thomas Carlyle en George Meredith op sy boekrak gehad.

Maar meer nog.

Hy het kortverhale, ’n toneelstuk én ’n roman (Mixed Humanity) geskryf wat nogal heel gunstig deur die kritici beoordeel is.

Daarby was hy ook ‘n afrigter met boksskole in Kaapstad, Kimberley en Johnannesburg, ’n boks-joernalis, skeidsregter en gevegsknoper.

Boks kon hy natuurlik ook; hy was selfs op ’n keer in die Verenigde State in twee gevegte op een aand in aksie. Couper het dikwels teen veel groter teenstanders te staan gekom, vertel Van der Merwe, maar hulle gereeld uitoorlê met sy wetenskaplike styl.

Couper is in Augustus 1882 as “Suid-Afrikaanse kampioen” gekroon nadat hy James William Coverwell, oftewel “The Ladies Pet”, verslaan het.

Couper is deur invloedrykes in dié stad genader om Coverwell, ‘n bruin man, “op sy plek te sit”.

Dié geveg het nie lank geduur nie.

“Binne een en ’n driekwart minuut het Couper die ‘Pet’ se oë bot toe geslaan en daar was niks wat sy mediese helpers daaraan kon doen nie. Die spons is gevolglik ingegooi.”

Prof. Floris van der Merwe

Couper se naam is sewe jaar later in die Suid-Afrikaanse boks-annale verewig met sy sege oor Woolf Bendoff in Johannesburg.

Dié geveg, wat met die toestemming van pres. Paul Kruger van die Zuid-Afrikaansche Republiek plaasgevind het, het die verbeelding gaande gemaak.

Die prysgeld was 4 500 pond, die “grootste prysgeld in die wêreldgeskiedenis van boks tot in daardie stadium”.

Couper het later bereken sy wins uit dié geveg, wat ‘n deel van die toegangsgeld en weddenskappe ingesluit het, was tussen 9 000 en 10 000 pond.

Dit het selfs oorsee opslae gemaak. Plaaslik het The Star vier uitgawes deur die dag van die geveg gedruk en dit in die nag opgevolg met ‘n uitgawe vir “afgeleë gemeenskappe”.

Couper was wéér kleiner as sy teenstander; volgens Van der Merwe was dit in vandag se terme soos ’n weltergewig wat teen ’n swaargewig boks.

Maar ná 27 rondes, sowat ‘n halfuur, se boks met “stywe leerhandskoene sonder opstopsel”, het Couper die groter Bendoff oorwin.

“Vir ‘n week of twee ná die geveg was Johannesburg in rou gedompel – behalwe vir die paar Couper-ondersteuners was almal bankrot,” skryf Van der Merwe.

Die geveg baie gedoen om boks spoedig die gewildste sportsoort aan die Rand te maak. Couper het met sy persoonlikheid en kennis baie tot dié gewildheid bygedra totdat hy in 1897 selfmoord gepleeg het.

  • Kontak Van der Merwe per e-pos by floris@sun.ac.za om James R. Couper: Vader van Suid-Afrikaanse Boks te bestel.

Meer oor:  Boks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.