Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
KYK: Diktator se seun wen nóg ’n boksgeveg

Adam Kadirof gaan nog baie boksgevegte wen – solank sy pa Tsjetsjnië se diktator is!

Ramzan Kadirof se 11-jarige seun het onlangs weer sy soveelste amateurgeveg gewen.

Adam Kadirof word links in ’n amateurboksgeveg goed gemoker, maar regs word sy hand as wenner gelig. Foto: YouTube

Beeldmateriaal wat op YouTube opgeduik het, wys egter dat hy dié keer (en dalk ook voorheen) so ’n bietjie hulp gehad het.

Daar kan gesien word hoe Adam se teenstander sy wilde houe met gemak ontduik en hom met teenhoue lekker piets.

Op ’n kol bestorm Adam sy teenstander weer en loop hom vas in ’n paar harde houe. Die skeidsregter tree dan summier tussenbeide en stuur Adam na ’n neutrale hoek. Dan gee die skeidsregter vir die verbaasde teenstander ’n staande telling, al was hy die een wat die slaanwerk gedoen het.

Die outjie se helpers besef dan dalk dat hulle liewer die handdoek moet ingooi, want wie weet wat gaan gebeur indien Adam dalk verloor?

Adam se pa is bekend as ’n heethoof en daar loop baie stories rond dat diegene wat hom teengaan stil-stil verdwyn.

Die Australiese swaargewig Lucas Browne het Kadirof in 2016 ontmoet toe hy in Grozni, hoofstad van Tsjetsjnië, teen Ruslan Chagaev gaan boks het.

Ramzan Kadirof, diktator van Tsjetsjnië, hou van boks en hokgevegte. Foto: Getty Images

Browne het vir ’n oefening by ’n gimnasium opgedaag toe Kadirof ook daar was. Kadirof se hande was verbind asof hy aan ’n boksgeveg gaan deelneem.

Die diktator het so ’n paar ligte oefeninge gedoen en volgens Browne het almal hom toegejuig asof hy besig was om die swaargewigtitel van die wêreld te wen.

Agterna het Kadirof daarop aangedring dat hy en Browne saam afgeneem word. Volgens Browne het hy nog met Kadirof gestaan en gesels toe die potsierlike baardman skielik lostrek en ’n geweldige harde hou in sy maag plant.

“Dit was ’n harde hou. Ek was heeltemal geskok. Ek het nie geweet wat om te doen nie,” sê Browne.

Lucas Browne poseer in 2016 saam met Ramzan Kadirof vir ’n foto. Oomblikke later het Kadirof ’n steelhou in Browne se broodmandjie geplant. Foto: Instagram

Hy het toe maar die voorval afgelag. Later het hy aan die wagte, wat hom tydens sy besoek aan die land moes oppas, gevra wat sou gebeur het as hy anders – dalk effens aggressief – sou gereageer het.

“Hulle het my vertel hulle sou my geskiet het,” sê Browne.

Browne beskryf Kadirof as “basies ’n groot kind”.

Kadirof het al op ’n keer vir Dana White, UFC-baas, gekontak en voorgestel dat White sy beste hokvegters na sy land moet bring, waar hulle in ’n geveg tot die dood teen Kadirof se vegters moet baklei. – Fox Sports, Sporting News


Meer oor:  Boks  |  Lucas Browne  |  Adam Kadirof  |  Ramzan Kadirof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.