Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Dit gaan nie oor geld, sê SA netbalsterre

Suid-Afrika se Protea-netbalspelers, wat Saterdag Australië in die halfeindstryd van die Wêreldbeker (WB)-toernooi in Engeland die stryd aansê, is dankbaar oor borge se aanbiedinge wat vir elke speler R2 miljoen in die sak sal bring as hulle die toernooi wen.

Die Suid-Afrikaanse hulpdoelverdediger en onderkaptein, Karla Pretorius (29). Foto: Gallo Images

Die spelers sê egter die geld sal nie ’n invloed op hul spel hê nie.

Karla Pretorius (29), hulpdoelverdediger en onderkaptein, sê die geldelike aansporings beïnvloed nie hoe hulle gaan speel en wat hulle gaan bereik nie.

“Ons het van die begin af ’n doel gehad,” sê Pretorius, ’n oud-Kovsie en een van drie spelers in die span met wortels aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Die Proteas was onoorwonne in die toernooi totdat die Rose hulle Donderdagaand met 58-47 geklop het.

Voorheen was Suid-Afrika se beste prestasie op die toernooi ’n silwermedalje in 1995.

Die span het na die halfeindstryd Saterdag in Liverpool deurgedring met ’n oorwinning van 67-40 oor Uganda.

Pretorius sê hulle het die oorwinning teen Uganda gevier, maar geweet hul werk is nog nie afgehandel nie.

“Dit was vir ons ’n vier jaar lange reis om te kom waar ons vandag is.”

Maryka Holtzhausen (32), voormalige Protea-kaptein en die span se hulpdoel. Foto: Gallo Images

Sy sê die talle internasionale wedstryde wat die span gespeel het, was goeie voorbereiding.

Die oud-Kovsie en voormalige Protea-kaptein Maryka Holtzhausen (32), hulpdoel, sê dit is ’n eer om deel van enige nasionale span te wees, “maar hierdie span is regtig spesiaal”.

Die span se geheim om so ver te kom?

“Ek dink ons almal werk baie hard, ons gooi nooit tou op nie en ons werk saam vir dieselfde doel.”

Oor die beloofde belonings sê Holtzhausen dit is ongelooflik vir netbal om borge aan boord te kry wat bereid is om baie geld op die tafel te sit.

“Maar dit is beslis nie wat ons dryf nie. Ons speel eerste vir God, ons land en ons span.”

Oor die halfeindronde voel sy terselfdertyd opgewonde en senuagtig.

“Dit is wedstryde soos hierdie een waarvoor ons oefen: om onsself teen die beste te kan meet.”

Khanyisa Chawane (23), ’n Kovsie en die span se aanvallende vleuel, voel geëerd om op so ’n jong ouderdom in haar eerste WB-toernooi te kan speel.

Khanyisa Chawane (23), ’n Kovsie en die span se aanvallende vleuel. Foto: Gallo Images

Oor die belonings wat aangebied word, sê Chawane dit is nie net wonderlik vir netbal nie, maar ook vir sportvroue.

“Dit wys dat ons uiteindelik, ná so ’n lang tyd, raakgesien word. Ek is baie dankbaar, maar uiteindelik speel ons nie vir die geld nie, maar om op die baan goeie netbal te vertoon. Die belonings sal volg.”

Volgens haar is God hulle middelpunt.

“Dit het nog altyd daaroor gegaan om die span eerste te stel en te speel om God, ons land en ons span te eer.”

* Netwerk24 het Donderdag berig oor die beloning van R1 miljoen elk per speler wat Telkom, borg van die Nasionale Liga, aanbied, asook R1 miljoen per speler van Spar, Netbal Suid-Afrika (NSA) se hoofborg, indien die Proteas as kampioene uit die toernooi tree.

Vir ’n silwermedalje sal elke speler R750 000 van Spar en R500 000 van Telkom ontvang. Vir brons gee Spar R500 000 aan elke speler.

* Die halfeindstryd teen Australië is Saterdag om 12:15 en die eindstryd Sondag om 17:45 (SA tye).

Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.