SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Nog Sport
Dokumentêr oor Schumacher sloer

Die lang verwagte dokumentêre rolprent oor die lewe van die Formule Een-legende Michael Schumacher is vertraag omdat die vervaardigers glo meer tyd benodig om sensitiewe beeldmateriaal van die gesin na te gaan.

Michael Schumacher het sy eerste F1-wêreldtitel in 1994 gewen. Foto: Getty Images

Die dokumentêr oor die sewemalige F1-wêreldkampioen, wat in 2013 ernstige breinbeserings in ’n ski-ongeluk opgedoen het, sou in Desember uitgereik word. Aanhangers sal nou egter langer moet wag vir Schumacher, met bespiegelinge dat dit dalk eers aan die einde van 2020 die lig sal sien.

Schumacher (50) se vrou, Corinna, pa, Rolf, en kinders, Gina en Mick, gaan na verwagting die eerste keer op kamera verskyn sedert sy ongeluk destyds. Die rolprent sal ook beeldmateriaal van die gesin bevat wat voorheen nog nie gesien is nie.

Die Daily Express berig die vertraging is weens vrees oor sensitiewe beeldmateriaal van die gesin, terwyl Corinna die laaste sê het oor wat gebruik mag word nadat sy dit met die res van die Schumachers bespreek het.

Daar sal na verwagting geen noemenswaardige nuus oor Schumacher se gesondheid in die rolprent verklap word nie.

Schumacher se vrou, Corinna. Foto: Getty Images

“Die materiaal is omvangryk en die regisseurs wil selfs meer tyd daarmee deurbring voordat die rolprent voltooi word,” sê ’n woordvoerder vir die produksiemaatskappy, B14 Film.

Sabine Kehm, Schumacher se bestuurder, het die produksie in Mei bevestig.

“Die fliek sal Schumacher se lewensverhaal vertel – van hoe hy as jong seun by motorsport betrokke geraak het tot by die toegewyde gesinsman wat hy was,” het sy destyds gesê.

Willi Weber, Schumacher se voormalige bestuurder, het verlede week gesê Corinna weerhou inligting oor sy toestand.

Weber, wat deur Corinna verbied is om Schumacher te sien, sê hy is desperaat om weer sy ou vriend te sien.

“Ek weet Michael is swaar getref, maar ongelukkig weet ek nie watter vordering hy maak nie,” sê Weber in ’n televisiedokumentêr om die 25ste herdenking van Schumacher se eerste wêreldkampioenskap te vier.

“Ek sou graag wou weet hoe dit met hom gaan en bladskud of oor sy gesig streel. Maar Corinna het dit afgekeur. Sy is glo bang ek sal sien wat werklik aangaan en die waarheid aan die publiek onthul.”

Hy sê hy glo nog sterk aan Schumacher se herstel.

“Ek weet hy’s ’n vegter. As daar ’n kans is, sal hy dit gebruik. Dit kan nie die einde wees nie. Ek bid vir hom en is oortuig daarvan ons sal hom weer sien.”

– Sportredaksie

Meer oor:  F1  |  Formule Een  |  Motorsport  |  Michael Schumacher
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.