Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Dosyn van dekade se grootste ikone

Wanneer daar teruggekyk word op die afgelope dekade is daar nie ’n tekort aan sportsterre wat die grense verskuif het met hul prestasies nie.

Hier is 12 atlete wat vuur gemaak het op die sportveld en hulself as van die grootstes van die dekade gevestig het.

Usain Bolt
Die legendariese naelloper Usain Bolt het die dekade binnegegaan as die vinnigste man op die planeet met wêreldrekords in die 100 en 200 m agter sy naam én Olimpiese goue medaljes in dié twee items. By die Olimpiese Spele in Londen en Rio de Janeiro het hy nog ses goues verower, danksy dubbele individuele glorie in die 100 en 200 en ’n hoofrol in die 4x100 m-aflos van albei Spele. Hier vier die Jamaikaan sy eerste plek in die 200 m op die Rio-Spele in 2016 in tipiese Bolt-styl. Foto: Getty Images
Die Amerikaner Serena Williams (37) het haar heerskappy op die tennisbaan voortgesit en die afgelope dekade 12 Grand Slam-titels verower. Sy het nou 23 Grand Slam-titels – die meeste deur enige tennisspeler in die Ope-era – agter haar naam. Haar laaste Grand Slam-titel het sy in 2017 by die Australiese Ope gewen terwyl sy agt weke swanger was. Sy het sowat ses maande ná die geboorte van haar eersteling teruggekeer na die baan en sedertdien in nog vier Slam-eindstryde gespeel. Foto: Getty Images
Novak Djokovic
Die Serwiese tennisspeler Novak Djokovic het die afgelope dekade 15 Grand Slam-titels agter sy naam geskryf – die enigste speler wat dit kon vermag. Op die foto pronk hy in Julie 2019 met die Wimbledon-trofee, nadat hy die Switser Roger Federer in die langste Wimbledon-eindstryd tot nog toe – 4 uur en 55 minute – geklop het. Foto: Getty Images
Lewis Hamilton
Die geruite vlag van die dekade gaan aan die Britse Formule Een-renjaer Lewis Hamilton. Hy het sedert 2013 vyf wêreldtitels verower om sy totaal op ses wêreldtitels te staan te bring. Dit is een minder as dié van die legendariese Michael Schumacher se rekordgetal van sewe titels. Hier geniet Hamilton en sy ondersteuners sy oorwinning in die Britse Grand Prix in 2019. Foto: Getty Images
Simone Biles
Die Amerikaanse gimnas Simone Biles het die afgelope dekade vier Olimpiese goue medaljes en 19 wêreldtitels gewen. Sy het in 2019 ’n rekord-25ste medalje by die Wêreldkampioenskap in Stuttgart gewen om die mees gevierde atleet in die sportsoort te word. Foto: Getty Images
Michael Phelps
Die Amerikaanse swemlegende Michael Phelps kan daarop roem dat hy in 2008 in Beijing agt goue medaljes by ’n Olimpiese Spele verower het, maar hy het nie daarna op sy louere gaan rus nie. Hy het in 2012 by die Londense Spele nog vier goues en twee silwermedaljes verower en toe kortstondig uitgetree. In 2016 het hy in Rio teruggekeer om nog vyf goues en een silwermedalje los te swem. Daarmee het hy die mees bekroonde Olimpiese atleet tot nog toe geword – met 28 medaljes in totaal, waarvan 23 goues is. Foto: Getty Images
Dan Carter
Die All Black-losskakel Dan Carter dra die kroon as die rugbyspeler van die dekade. Hy is in 2012 en 2015 bekroon as Wêreldrugby se Speler van die Jaar – ’n eerbewys wat hy ook in 2005 ontvang het. Hy en sy spanmaat Richie McCaw is die enigste spelers wat drie keer met dié louere kon wegstap. Soeter egter vir dié spanman is die twee Wêreldbeker-titels wat hy in 2011 en 2015 as generaal van ’n verwoestende All Black-span gewen het. Op hierdie foto stuur hy ’n skepskop tussen die pale deur om sy span se voorsprong te rek in die Wêreldbeker-eindstryd teen Australië in 2015 op Twickenham in Londen. Hy het 19 punte in dié eindstryd aangeteken en is as die Speler van die Wedstryd aangewys. Foto: Getty Images
AB de Villiers
Die afgelope tien jaar kon AB de Villiers enige krieketstadion in die wêreld op sy eie vul. Mense van alle lande wou sien hoe Meneer 360 boulers na alle uithoeke van die veld jaag. Hy het die vinnigste vyftigtal, honderdtal en 150-tal tot nog toe in eendagkrieket geslaan en die 12 820 lopies wat hy gesamentlik in al drie formate dié dekade opgestapel het, is die sewende meeste in die wêreld. Hy spog met die vierde meeste eendaglopies dié dekade (6 485) teen ’n ongelooflike gemiddeld van 64.20 en treftempo van 109.76. Een van die beste spelers van alle tye, nie net die dekade nie. Foto: Gallo Images
Eliud Kipchoge
Op 12 Oktober 2019 het die 34-jarige Eliud Kipchoge in Wene, Oostenryk, die eerste mens geword wat ’n marathontyd van vinniger as 2 uur kon aanteken. Hy het die afstand in 1 uur, 59 minute en 40 sekondes afgelê. Dit is die vinnigste marathon-tyd tot dusver, maar is nie as ’n wêreldrekord erken nie omdat Kipchoge saam met roterende groepe pasaangeërs gehardloop het. Dié Keniaan is ook die wêreldrekordhouer in die marathon met ’n tyd van 2:01:39, wat hy op 16 September 2018 in die Berlyn-marathon aangeteken het. Foto: Getty Images
lionel messi
Die meesterlike Lionel Messi het byna geen gelyke op die sokkerveld nie. Hy het in 9 van die 10 jaar van die dekade minstens 50 doele in elke kalenderjaar aangeteken. Die doelevraat se totaal vir die dekade in wedstryde vir sy land, Argentinië, en klub, Barcelona, is ’n asemrowende 579. In La Liga was hy in die kol met 369 doele in 343 wedstryde en in die afgelope dekade het hy saam met Barcelona 23 trofeë gewen. Hy het vanjaar vir die sesde keer die Ballon d’Or-toekenning gewen. Vyf daarvan was in die afgelope dekade, met die eerste wat hy in 2009 gewen het. Foto: Getty Images
Cristiano Ronaldo
Cristiano Ronaldo was saam met die Argentyn Lionel Messi die gesig van wêreldsokker die afgelope dekade. Dié Portugese doelevraat se 451 doele in 438 wedstryde vir Real Madrid in nege seisoene is verstommend. Hy is in 2013, 2014, 2016 en 2017 met sokker se groot prys, die Ballon d’Or – wat hy ook in 2008 gewen het – vereer. Ronaldo het Real Madrid gehelp om twee La Liga-titels en vier Kampioeneliga-titels te wen. Hy het saam met Portugal se nasionale span sukses gesmaak in die Euro2016-toernooi en die Nasiesliga in 2019. Foto: Getty Images
Chris Froome
Die fietsryer Chris Froome kry die geeltrui van die dekade. Hy is vier keer as die Tour de France-kampioen gekroon: in 2013 en drie keer agtereenvolgens van 2015 tot 2017. Op ’n tydstip het drie groot fietsrytitels gelyktydig aan hom behoort, die van die Tour de France, die Giro d’Italia en Vuelta a España. Hier lig die kampioen ’n glasie op sy sukses in 2017 se Tour. Foto: Getty Images

Ander uitblinkers wat net-net nie die lysie gemaak het nie, is:

Virat Kohli – Dié Indiese kolwer het die eerste speler geword om 20 000 lopies in internasionale krieket in ’n dekade aan te teken.

Rafael Nadal – Dié Spanjaard het die dekade afgesluit as die nr. 1 speler op tennis se wêreldranglys en het agt keer die Franse Ope-kroon op die kleibane van Roland Garros verower.

Roger Federer – Dié Switserse meester het manstennis in die 2000’s oorheers en was in die volgende dekade, waarvan die grootste deel in sy dertigerjare, steeds een van die beste spelers ter wêreld.

Rory McIlroy – Dié Noord-Ierse gholfspeler het 25 keer wêreldwyd geseëvier in die afgelope dekade. Dit sluit vier majors in.

Caster Semenya – Dié Suid-Afrikaanse middelafstandatleet het Olimpiese goue medaljes in Londen (ná die Russiese wenner van haar eerste plek gestroop is weens opkikkers) en Rio de Janeiro gewen en ook twee Wêreldkampioenskap- en twee Statebondtitels agter haar naam geskryf. In die 800 m was sy bykans onoorwinlik, met seges in 30 agtereenvolgende eindrondes tussen 2015 en 2019. Omstrede testosteroonregulasies het haar daarvan weerhou om in 2019 aan die Wêreldkampioenskap in Doha deel te neem.

Floyd Mayweather – Dié bokser het sy loopbaan in 2015 ná 49 gevegte onoorwonne afgesluit en onder andere met Manny Pacquiao en Canelo Alvarez afgereken. Hy het in 2017 weer sy bokshandskoene aangetrek om die gemengde-gevegskunskampioen Conor McGregor te klop.

powered by Typeform
Meer oor:  Dekade
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.