Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Murray se loopbaan in gedrang

Die Suid-Afrikaanse driekampatleet Richard Murray se Olimpiese drome – en sy sportloopbaan – hang aan ’n dun draadjie.

Die 32-jarige Kapenaar het ’n hartkwaal (atriale fibrillasie) en ’n Kaapse dokter het hom in Januarie aangeraai om ’n ander loopbaan te kry.

Richard Murray verlede jaar tydens ’n oefensessie in Kaapstad. Foto: Red Bull Content Pool

Murray het Vrydag gesê hy het einde Januarie die eerste keer agtergekom iets is nie pluis met sy gesondheid nie.

“Ek het gedink ek het ’n borsspier verrek of die spier trek saam. Ek het wel ’n paar dae tevore hartkloppings gehad, maar nie geweet wat dit is nie.

’n Dokter by die Mediclinic Panorama het gesê ek moet ’n ander werk soek, want my loopbaan is verby.

“As ek swem, kan ek op my monitor sien wat my hartklop is en dit was 40% hoër as wat dit gewoonlik is,” sê Murray.

Sy hart het onreëlmatig geklop en hy het dadelik hospitaal toe gegaan. “ ’n Dokter by die Mediclinic Panorama het gesê ek moet ’n ander werk soek, want my loopbaan is verby. Dit was ’n emosionele en sielkundige skok, want driekamp is wat ek al die afgelope 12 jaar doen.”

Talle sportsterre ondervind dié hartkwaal wanneer hulle “middeljarig” word, sê hy.

Murray het Suid-Afrika in 2012 en 2016 by die Olimpiese Spele verteenwoordig. In 2016 in Rio de Janeiro het hy vierde geëindig. Op 2014 se Statebondspele het hy ’n bronsmedalje gewen, asook ’n silwer in die gemengde spanaflos. Hy spog ook met talle oorwinnings in die Wêreldkampioenskapsreeks.

“Ek het medikasie gekry en my hartritme het verbeter. Ek het dinge vir ’n paar weke rustig gevat en is toe saam met die Nederlandse span na ’n oefenkamp in Fuerteventura op die Kanariese Eilande.”

Daar het hy heeltyd gevoel iets is nie 100% reg nie.

Murray en sy Nederlandse vrou, Rachel Klamer, is daarna terug na Nederland, waar ’n dokter sy hart terug in ritme moes “skok”.

“Ons het toe besluit om in Junie ’n operasie in Nederland te ondergaan,” sê Murray.

Die Kapenaar is ’n ambassadeur vir die Wings for Life World Run en sou verlede Sondag ’n paar kilometer vir dié liefdadigheidsprojek gehardloop het.

“Ek het die oggend geswem en goed gevoel en so ’n uur en half voor die Wings-hardloop gesien my hartklop is uit ritme en gedink miskien moet ek eerder nie hardloop nie.”

Murray sê hy is tans in ’n fel stryd gewikkel. “Dit is twee treë vorentoe en een terug. Ek kan net ligte oefeninge doen,” sê hy.

“Ná die operasie is dit ’n geval van wag en kyk hoe lank die herstelproses sal duur.

“Ek gaan alles moontlik probeer om aan die Spele te kan deelneem, maar ek sal my gesondheid eerste stel.”

Die manskompetisie by die Spele is op 26 Julie.

Murray sê die eerste byeenkoms in die Wêreldkampioenskapsreeks was nie deel van sy program nie.

Dit word Saterdag in Jokohama, Japan, gehou en Henri Schoeman sal Suid-Afrika se vaandel daar dra.

Schoeman is tans negende op die wêreldranglys.

Die Suid-Afrikaanse vroue Gillian Sanders, Simone Ackermann en Shanae Williams sal ook daar in aksie wees.

TV: Saterdag vanaf 05:50 (SS 207).

Meer oor:  Richard Murray  |  Driekamp  |  Hartkwaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.