Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Droom word dalk waar vir Ralph

Om Sondag die Afrika-afdeling te wen sal ’n droom wees wat waar word.

Só sê die Suid-Afrikaner Theresa Ralph, wat vandeesweek aan haar negende Cape Epic deelneem.

Theresa Ralph (voor) is vandeesweek ’n mentor en “ma” vir die 25-jarige Epic-debutant Sarah Hill. Hulle neem deel vir die span van Galileo Risk. Vrydag en Saterdag se skofte word in Stellenbosch beslis, met Sondag se eindbestemming die Paarl. Foto: Cape Epic | Shaun Roy

Die 43-jarige Johannesburger is ’n veteraan van Suid-Afrikaanse bergfietsry, maar sy het nog nooit ’n voorloperstrui gedra nie.

Sy en haar spanmaat, Sarah Hill, ry nou met die rooitruie as die voorste vrouespan van Afrika of Suid-Afrika.

Hulle is los voor in dié afdeling en sesde algeheel.

Ralph-hulle se enigste teenstanders in die afdeling was Amy Mcdougall en Samantha Sanders.

Die span van Dormakaba het hulle Woensdag aan die Epic onttrek nadat Mcdougall siek geword het.

Mcdougall was in 2018 saam met Candice Lill die voorste Afrika-vroue.

Die prysgeld in dié afdeling beloop R50 000.

“Daar is soveel skofwedrenne in Suid-Afrika dat jy jou nie moet uitmergel vir dié monster nie. Jy moet jou gesondheid eerste stel,” sê Ralph oor Mcdougall-hulle se onttrekking.

Daar is soveel skofwedrenne in Suid-Afrika dat jy jou nie moet uitmergel vir dié monster nie.
Theresa Ralph

Ralph en Hill woon naby mekaar in Johannesburg, maar ry meer saam in wedrenne as wat hulle saamoefen.

Ralph sê hul eerste doel was om in die toptien te eindig.

“Toe is daar minder spanne in die elite-vroueafdeling. Toe stel ons die doel om sesde te eindig. Ons wil nou net vasklou aan ons sesde plek. Ander spanne is ook honger vir welslae,” sê Ralph.

Die 25-jarige Hill is ’n Epic-debutant. Sy glo hulle vaar goed omdat hulle bestendig is.

“Jy moet aangaan, net die pedale trap,” filosofeer sy.

Hulle het nog nie deurgeloop onder ’n lekband of meganiese probleme nie.

In teenstelling met die voorste vyf vrouespanne is dié vroue van Galileo Risk net semi-beroepsryers.

Hulle dra die rooitrui van Absa, die Epic se hoofborg, maar sy werk vir FNB, lag Ralph.

“My lynhoof hardloop die Comrades, so hy verstaan en hy ondersteun my baie. Ek kry ook baie sportverlof vir wedrenne, so gelukkig gebruik ek nie al my verlof nie.”

Ralph en Hill kry nie ’n salaris nie, maar hul borg ondersteun hulle geweldig en betaal vir alles – van fietse tot klere en inskrywingsgeld.

“Ons inkomste is die prysgeld in wedrenne, daarom moet ons goed vaar sodat ons rekeninge kan betaal,” sê Ralph, wat haar beroep, ma-wees en bergfietsry moet balanseer.

Hill is ongetroud en bedryf haar eie onderneming wat mense vaardighede op ’n bergfiets leer.

“Ek hou van kleiner groepe want dit is meer persoonlik. Soms is ek tot agt uur op my voete.

“Dit betaal die meeste uitgawes, maar as ek vasbrand en nie my huur kan betaal nie, help my pa,” sê Hill.

“Ek probeer dinge nou só balanseer voordat ek die korporatiewe wêreld betree. Ek het klaar studeer en daar is werkgeleenthede, maar ek wil fietsry.

“Hopelik kan ek en Theresa eendag beroepsryers word,” sê Hill.

“As ek meer kan oefen, sal ek ’n masjien word,” lag Ralph.

Meer oor:  Bergfietsry  |  Cape Epic
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.