
Die perde-afrigter Yvette Bremner (regs) is klaar met die wedrenbedryf. By haar is Lyle Hewitson, ’n jokkie wat gereeld haar perde gery het. Foto: Facebook | Pauline Herman Photography
Die einde van ’n era het hierdie week aangebreek met die aankondiging dat die perdewedren-afrigter Yvette Bremner klaar met die sport is.
Bremner, wat reeds 18 jaar by die wedrenbedryf in die Oos-Kaap betrokke is, het aangedui dat sy ná verlede week se gewelddadige betoging by haar stalle in Fairview, Port Elizabeth oorweeg om te emigreer.
Woedende werkers wat betoog het, het ingestorm by die stalle en van die perde beseer en een, Mark the Doorman, doodgemaak.
’n Geskil oor werkloosheidsversekering het blykbaar tot die betoging verlede Donderdag aanleiding gegee.
Bremner het al die perde in haar stal wat verlede Vrydag aan die byeenkoms op die Fairview-renbaan sou deelneem, onttrek.
Die name van die stal se perde het aanvanklik ook op die program vir hierdie Vrydag se byeenkoms verskyn, maar dit is ook intussen geskrap.
Dit is onseker wat nou met perde gaan gebeur. Van die ander stalle sal verseker in top-renperde soos Tiger Star en Mary O’Reilly belangstel.
Van die perde wat Bremner afgerig het, het ook gereeld goeie vertonings elders in die land gelewer.
• Daar is agt wedrenne op die program vir Vrydag se byeenkoms op Fairview.
Die hoofwedren is die sesde wedren, die Fairview 1800, wat om 15:05 afgesit word.
Die afrigter Alan Greeff het twee sterk inskrywings, American Landing en Rock Aloe, wat goed kan eindig.
Daar is ook Saterdag in Durbanville (Kaapstad) en Turffontein (Johannesburg) byeenkomste. Die perde hardloop ook Sondag op Greyville (Durban).
• Intussen is ’n fonds gestig om die perde wat verlede week beseer of getraumatiseer is te help. Besoek die volgende webwerf vir meer inligting: https://www.backabuddy.co.za/champion/project/dippin-blu-horses