Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Ek is g’n arrogant, skerm Leclerc

Die renjaer Charles Leclerc sê die roem wat hy agter die stuur van ’n Ferrari in Formule 1-wedrenne verwerf het, maak hom allermins ’n arrogante mens.

Ferrari se Charles Leclerc sê die aantygings dat hy arrogant is, steek hom dwars in die krop. Foto: Getty Images

Leclerc het pas sy derde seisoen as F1-jaer voltooi en was vanjaar een van die sterker deelnemers, ondanks Ferrari se swakste seisoen in 40 jaar.

Dié boorling van Monaco is die uitverkorene in Maranello-geledere en word beskou as die jaer wat die span in die toekoms weer die hoogtes van die verlede kan laat bereik.

Al dié aandag en toewyding, glo sommige, het na Leclerc se kop gegaan.

Hy verskil heftig van die mening.

“Een stukkie kritiek wat my dwars in die krop steek, is die kwessie van my sogenaamde arrogansie,” het hy Donderdag aan die TV-netwerk Sky Italia gesê.

“Ek weet alte goed niks aan my houding het verander nie. Hoe verder ek vorder in my loopbaan, hoe meer mense wil my bevriend. Dis nie oor my as persoon nie, maar oor ek in ’n Ferrari jaag.

“So die natuurlike reaksie van my kant af is om myself ’n bietjie eenkant te hou, om my af te sluit. Dis gewis nie arrogansie nie. My persoonlikheid het nie verander nie. Ek is van kleins af geleer om my voete op die grond te hou, nie grootkop te kry nie,” het Leclerc gesê.

Ek is van kleins af geleer om my voete op die grond te hou, nie grootkop te kry nie.
Charles Leclerc

“My loopbaan het ewe skielik rigting gekry, in ’n ommesientjie. Maar die raad wat ek as kind by my pa gekry het, is steeds in my agterkop. ‘Moenie dat sukses jou verander nie,’ het hy gesê. En dis hoekom die woord arrogansie, wat nou teen my gebruik word, my so pla.”

Leclerc het ook gesê ondanks Ferrari se gesukkel in 2020, is die seisoen nie ’n misoes nie.

“Dit was ’n moeilike jaar vir ons, ja. Die motor was nie waar dit moes wees nie en ons het nie verwag om so te sukkel nie.

“Maar jy moet die suur kan sluk as jy die soet wil proe. Ons aanvaar die jaar en teken dit aan as lesse wat geleer is. Ons sal dit deeglik ontleed en verbeter. Maar origens is ek tevrede, selfs al was ons ver benede standaard.

“Ons kan nie bloot van die seisoen vergeet nie. Dis juis in uitdagende tye wanneer jy die meeste leer en waar jy groei.

“Ek glo ek het as jaer baie geleer en verbeter en dit sal Ferrari vorentoe help. Daar is spesifieke goed wat ons gaan teiken in die nuwe seisoen,” het hy bygevoeg.Reuters

Meer oor:  Charles Leclerc  |  Ferrari  |  Motorsport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.