Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
KYK: Ek kan dit nie glo nie, sê Binder ná sege

Net twee maande gelede het Brad Binder met miere in sy broek by sy ouers se huis gesit en wonder wanneer die blink liggies van MotoGP hom eendag beskore sal wees.

Nou, ná net drie renne op die grootste verhoog in sy sport, is hy die eerste Suid-Afrikaner ooit wat ’n Grand Prix op twee wiele kon wen.

En het hy dit nie in styl gedoen nie!

Net twee dae voor sy 25ste verjaarsdag het Binder Sondag koning gekraai in die Tsjeggiese Grand Prix nadat hy van sewende op die wegspringrooster tot die boonste trappie van die podium gestorm het.

Op die kruin van die golf! Brad Binder se glimlag haak by sy ore nadat hy Sondag die eerste Suid-Afrikaner ooit geword het wat ’n motorfiets-Grand Prix wen. Foto: AP

’n Uitstekende begin het hom sien opskuif tot vyfde, van waar hy die een ná die ander teenstander met brute spoed ingekatrol het. Nadat hy die voortou met tien rondtes oor geneem het, het hy ook nie sy greep op die versneller verslap nie. Teen die tyd dat die laaste rondte aangebreek het, het die jong Krugersdorper reeds ’n buffer van vier sekondes gehad, en kon hy baai in glorie waaroor hy van kindsbeen gedroom het.

“Dis die ongelooflikste dag van my hele lewe,” het Binder die grootsheid van die okkasie volgens Autosport opgesom. “Dis iets waarvan ek gedroom het vandat ek ’n kind was. Vir dit om waar te word in net my derde Grand Prix . . . dis skrikwekkend. Ek kan dit eerlikwaar nie glo nie.”

Binder het gesê hy sou dit so onlangs as Vrydag nie geglo het nie as iemand vir hom gesê het hy sou Sondag koning kraai.

“Ons was Vrydag in ’n totaal ander boot (met die RC16-motorfiets). Ek kon skaars aan die versneller raak – dit het gevoel of ek in die lug gegooi gaan word,” het Binder gesê.

“Maar Vrydagnag het die ouens hul huiswerk gedoen. Voor ek by die baan weg is het ek ’n gesprek gehad met die spanbaas en hy het vir my gesê, ‘Moenie stres nie, môre sorteer ons dit uit.’

“En hulle het. (Saterdag) was my motorfiets soveel meer stabiel en het dit net regtig, regtig goed gevoel.”

Dis iets waarvan ek gedroom het vandat ek ’n kind was. Vir dit om waar te word in net my derde Grand Prix . . . dis skrikwekkend. Ek kan dit eerlikwaar nie glo nie.

Terwyl hy in die wolke was oor sy persoonlike sukses, kon Binder nie uitgepraat raak oor die harde werk van die hele KTM-span nie.

Hy jaag al vir jare vir dié span, en was breëbors daaroor dat hy ook hul eerste Grand Prix-sege kon oplewer.

Binder het in sy televisie-onderhoud sy spyt uitgespreek dat sy ouers nie saam met hom kon feesvier nie, want “dis hulle wat my van die begin af ondersteun het”.

Sy ouers, Trevor en Sharon, woon in Krugersdorp, waar Brad ook tydens die inperking was. Maar terwyl sy ouers afwesig was, kon hy darem saam met sy kleinboet, Daryn, sjampanje sproei oor sy grootse dag. Daryn ding mee in die Moto3-kompetisie en woon saam met Brad.

Binder is natuurlik geen vreemdeling vir sjampanje sluk oor groot sukses nie. Hy is in 2016 as Moto3 se wêreldkampioen gekroon en het sy Moto2-loopbaan verlede jaar afgesluit met seges in al drie die jaar se laaste renne.

Ná daardie hoogtepunt kon hy begin voorberei vir die verwesenliking van sy droom om saam met sy kinderheld, Valentino Rossi, en motorfietsry se ander groot honde in MotoGP aan te tree.

Maar sy buiging is met vier maande vertraag weens die impak van die koronavirus-pandemie, en in ’n stadium tydens die inperking het hy gespot die opwindendste deel van sy week was om die vullis uit te dra.

Met sy terugkeer na Europa in Junie kon hy uiteindelik weer toetssessies op sy nuwe ysterperd doen, maar in die week voor die seisoen uiteindelik in Spanje op 19 Julie was sy selfvertroue nog maar min.

Ons deel in sy vreugde en sien uit na ’n lang en suksesvolle loopbaan vir hom op die kruin van sy sport.
Cyril Ramaphosa

“Met ons laaste toets by Misano het ek gesien ek is nog omtrent ’n halwe sekonde agter die top-ouens op die KTM. Ek het beslis tyd op die fiets nodig en tyd op die baan, om te probeer opvang en so gou as moontlik te leer.”

Dat hy ’n vinnige leerder is, ly ná dese nie twyfel nie – en nou is die vraag wat hy gaan oplewer nou dat hy vir seker weet hy hoort tussen sy sport se grotes.

* Met Suid-Afrikaners die land oor uit hul velle oor Binder se sukses, het ook president Cyril Ramaphosa Sondagmiddag sy vreugde met dié sonderlinge prestasie uitgespreek.

“Brad Binder het alle Suid-Afrikaners vandag trots gemaak met sy geskiedkundige oorwinning,” het Ramaphosa in ’n verklaring gesê. “Ons deel in sy vreugde en sien uit na ’n lang en suksesvolle loopbaan vir hom op die kruin van sy sport.

“Met die sege wat gekom het op Vrouedag, wat ons saambring as ’n nasie, is Brad se sukses iets wat ons vul met inspirasie, hoop en trots, en ons gemoedere lig op ’n tydstip wat ons dit nodig het.”

Meer oor:  Motogp  |  Brad Binder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.