Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Duo verstom met Spele-kwalifikasie

Met ’n Suid-Afrikaanse rekord en kwalifikasie vir die Olimpiese Spele in Tokio in die sak, was Emma Chelius Maandag die groot uitblinker op die laaste dag van die Suid-Afrikaanse Swemkampioenskappe in Gqeberha.

Ditsem, Emma! Emma Chelius het Maandag met ’n indrukwekkende vertoning in die 50 m-borsslag vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer in ’n nuwe nasionale rekord. Foto: Gallo Images

Chelius het in die 50 m-vryslag se uitdun aangetree waar sy vanuit die staanspoor op ’n missie was en letterlik water in die oë van haar teenstanders geskop het.

Sy het die muur in 24.72 sekondes geraak om een van haar teenstanders en aflos-spanmaat Erin Gallagher se nasionale rekord van 24.95, wat sy in 2019 by die Afrika-Spele opgestel het, iets van die verlede te maak.

Hiermee het Chelius ook verseker dat sy nie net in die 4x100 m-vryslag aan die skouspel sal deelneem nie, maar ook in ’n individuele item nadat sy Fina, die wêreldbeheerliggaam vir swem, se kwalifiserende vereistes van 24.77 oortref het.

“Ek is baie bly oor hoe dit gegaan het en absoluut verheug dat ek die kwalifikasie reeds in die uitdunne kon behaal,” het Chelius agterna gesê.

“Dit het baie druk van my skouers gehaal voor die eindronde. Dit was ’n wonderlike manier om die byeenkoms af te sluit en nou kan ek begin uitsien na Tokio.”

Chelius was Saterdag ’n lid van die aflosspan – Chelius, Aimee Canny, Gallagher en Rebecca Meder – wat hul plek by die Spele bespreek het.

Die eindronde het ook aan Chelius behoort, wat stadig met haar wegspring in die water in was, maar terugbaklei het om in 25.00 te wen, met Gallagher naasbeste in 25.51.

Tatjana Schoenmaker, wat nie in dié item spesialiseer nie, was algeheel 18de in die uitdunne in 27.53 en het nie vir die eindronde gekwalifiseer nie.

Pieter Coetzé
Pieter Coetzé (16) het Maandagaand vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer in die laaste item van die byeenkoms. Foto: Gallo Images

Die 16-jarige Pieter Coetzé het ’n droom bewaarheid met sy eerste been in die 4x100 m-wisselslag waar hy die rugslag in 53.62 geswem het om vir die 100 m-rugslag vir die Spele te kwalifiseer.

Dit nadat hy vroeër in die dag net-net kwalifikasie misgeloop het in 53.92.

’n Tyd van 53.85 was verlang met dié eerste been van die aflos, wat steeds vir rugslag-kwalifikasie vir die Spele tel.

“Ek is sonder woorde. Dit was ’n ongelooflike gevoel. Ek het nog nooit só goed in my lewe gevoel nie,” het hy gesê.

“Ek was so verlig toe ek gehoor het dat ek nog ’n kans in die aflos gaan kry en gelukkig was dit ’n geval van die gelukskoot met die vierde probeerslag.”

Die viertal van Meder, Schoenmaker, Canny en Gallagher het die Suid-Afrikaanse rekord in die 4x100 m-wisselslag verpletter in 4:01.92 om vir hulself ’n kans te gee om moontlik by die Spele se agterdeur in te glip. Die vorige rekord was 4:03.62.

Vir die 17-jarige Matt Sates wat dit ’n geval van só naby, tog so ver aan Spele-kwalifikasie in die 200 m-wisselslag.

Sates het die eindronde in 1:59.69 voltooi, wat net 0.02 sekondes te stadig vir die A-standaard van 1:59.67 was.

Douglas Erasmus, in sy laaste resies voordat hy na New York in die VSA verhuis, het sy swemloopbaan tuis met goud in die 50 m-vryslag in 23.01 afgesluit.

“Dit was die laaste dans. Ek is baie bly dat ek met ’n glimlag en ’n goue medalje kon klaarmaak,” het hy gesê.

• Dinge het in die oggendsessie verkeerd geloop vir Kat Swanepoel, een van die sterre van die byeenkoms, toe sy in die 50 m-rugslag (S2 vir atlete met beperkte gebruik van hul bene, arms, hande of bolyf) gediskwalifiseer is toe sy die muur geraak het omdat haar liggaam heeltemal onder die water was, selfs nadat sy die Paralimpiese Spele se vereiste van 1:14.55 in 1:04.92 oortref het.

    Dié bittereinder het toe vir tydtoets gevra om sake reg te stel en dit is presies wat sy gedoen het in ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekord van 1:02.63.

    Sy het ook die nasionale rekord in die 100 m-vryslag (S2) oortref met haar tyd van 1:56.22.

    Christian Sadie (S7 vir swemmers met ’n beperkte beengebruik) het met sy tyd van 1:21.83 in die 100-rugslag dit ’n vyfde Paralimpiese item gemaak waarin hy gekwalifiseer het.

    Meer oor:  Emma Chelius  |  Gqeberha  |  Swem  |  Sa Swemkampioenskappe
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.