Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Epic-geskiedenis wink vir Deen
Kate Courtney en Annika Langvad breek weg van die bondel in verlede jaar se laaste skof tussen Wellington en die Paarl. Foto: Cape Epic | Sportzpics | Greg Beadle

’n Duitser en ’n Switser het dit vermag. Kan ’n Deen hulle dit nadoen?

Die 34-jarige Deense bergfietsryer Annika Langvad kan haar in die geskiedenisboeke inry as sy volgende Sondag die Cape Epic wen.

Annika Langvad ná verlede jaar se oorwinning. Foto: Cape Epic | Sportzpics | Ewald Sadie

Langvad het al vier Epic-spanwedrenne gewen. Nou wink ’n vyfde titel vir haar, wat haar in uitgelese geselskap sal plaas.

Die legendariese Duitser Karl Platt en die Switser Christoph Sauser het albei vyf Epic-titels op hul kerfstok.

Platt was in 2004, 2007, 2009, 2010 en 2016 bobaas en Sauser in 2006, 2011, 2012, 2013 en 2015.

Langvad was in 2014, 2015 en 2016 die kampioen saam Ariane Lüthi van Switserland en verlede jaar saam die Amerikaner Kate Courtney.

Dié drie titels maak Lüthi die enigste vrou wat al naastenby soveel sukses as Langvad behaal het.

(Lüthi het wel nog twee titels in die gemengde afdeling op haar kerfstok.)

Wanneer die 16de Epic vandag begin, sal Langvad ’n nuwe spanmaat hê wat haar na glorie moet help – die Nederlandse padryer Anna van der Breggen.

Die span van Investec-Songo-Specialized maak kenners opgewonde en op papier word hulle beskou as die sterkste vroue-kombinasie nóg in die Epic.

Baie kan egter oor agt dae en 624 km op Bolandse en Overbergse roetes skeefloop.

“Ek is baie opgewonde om in Suid-Afrika te wees vir my vyfde Epic. Dit is ’n hoogtepunt van my seisoen,” sê Langvad.

Anna van der Breggen en Annika Langvad Donderdag op ’n nuuskonferensie in Kaapstad.Foto: Cape Epic | Sportzpics | Greg Beadle

Die Deen het verlede Saterdag haar vermoëns op ’n padfiets gewys toe sy tweede geëindig het in die Strade Bianche in Siëna, Italië. Van der Breggen het negende klaargemaak.

Van der Breggen sê dit is vir haar ’n avontuur om op ’n bergfiets deel te neem, net soos dit vir Langvad op die pad is.

Lüthi het ook ’n nuwe spanmaat in die Pool Maja Wloszczowska, wat haar debuut sal maak.

Candice Lill en Amy McDougall was verlede jaar die voorste SA paar in die vierde plek.

Lill trap vanjaar saam met Adelheid Morath van Duitsland.

McDougall dra die SA vlag saam haar landgenoot Samantha Sanders. Theresa Ralph en Sarah Hill sal ook meeding om die rooitrui vir spanne van Afrika of Suid-Afrika.

Die veterane Platt (41) en Sauser (42) sal vanjaar wil bewys daar is nog baie krag in die ouer bene. Platt sal vir die eerste keer saam met Alban Lakata (39) ry. Hulle vorm die span Bulls Leg­ends.

Sauser maak sy terugkeer nadat hy uitgetree het en nie verlede jaar deelgeneem het nie.

Meer oor:  Annika Langvad  |  Cape Epic  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.