Daryl Impey het die bykans onmoontlike vermag deur sy titel in die padren van die Suid-Afrikaanse padfietskampioenskappe Sondag in Pretoria suksesvol te verdedig.

Hierdie een is ook myne! Daryl Impey ry Sondag oor die wenstreep. Foto: Rika Joubert
Die 34-jarige Impey het die roete oor 162 km in 3 uur, 54 minute en 30 sekondes voltooi.
Ryan Gibbons was tweede, 25 sekondes ná Impey, gevolg deur Stefan de Bod in 3 uur, 55 minute en 1 sekonde.
Met twee rondtes oor, was Impey so te sê uit die ren, met twee jongelinge, Nicholas Dlamini (23) en Jayde Julius (25), wat ’n voorsprong van omtrent 45 sekondes bo die verdedigende kampioen en ’n groep van omtrent nog vyf ryers opgebou het.
Maar soos wat Pretorianers jou sal vertel is Tom Jenkins-rylaan nie ’n man se speelmaat nie. En die laaste twee rondtes het ryers dié strawwe bult laat klim.
Julius het vroeg in die eerste rondte teen Tom Jenkins in die stof gebyt, met Dlamini wat steeds ’n stewige voorsprong gehad het.
Maar toe, die tweede keer wat die ryers die pas op is, gaan staan Impey regop op sy pedale en haal Dlamini in.
Die verdedigende kampioen, wat ook Vrydag die tydtoetstitel gewen het, sou nooit oor die laaste deel ingehaal word nie.

Hou bene, hou. Daryl Impey se gesig is vol inspanning teen die moordende Tom Jenkins-rylaan op. Foto: Rika Joubert
Wat Impey, wat vir die Australiese span Mitchelton–Scott ry, se vertoning soveel meer merkwaardig maak, is dat hy geen spanmaats in die ren gehad het nie.
Maar dié boorling van Johannesburg sê hy is ervare in sulke situasies.
“Ek het baie ervaring aan my kant en was vorige jare soveel keer in sulke situasies. Ek moes ’n hele paar groot gapings ingehaal het, maar het dit op die regte tye gedoen. Maar ja, dit was ’n moeilike ren,” sê Impey.
Dimension-Data se ryers, wat Dlamini, Jacques Janse van Rensburg en Reinardt Janse van Rensburg insluit, het Impey aanvanklik goed dopgehou en hom min beweegruimte gegun.
“Hulle het my onder druk gesit, maar gelukkig was daardie laaste gedeelte so moeilik en het ek die bene gehad. Ek is regtig trots op my poging vandag.”