Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
F1 stel renne in Australië, China uit

Die Covid-19-pandemie het vir die tweede jaar ’n stokkie voor Formule Een se tradisionele openingswedren in Australië gesteek.

Dié Grand Prix in Melbourne, wat op 21 Maart sou plaasvind, sowel as die Chinese Grand Prix in Sjanghai (11 April) is tot later in die jaar uitgestel.

Lewis Hamilton en sy Formule Een-teenstanders sal op 28 Maart in Bahrein die eerste keer vanjaar tekkies kan brand nadat die Australiese Grand Prix Dinsdag uitgestel is. Foto: Getty Images

Australië het ’n nuwe tydgleuf van 21 November op vanjaar se kalender gekry, maar dis nog onduidelik wanneer die Chinese wedren ingepas sal word. Owerhede daar laat steeds nie internasionale sportbyeenkomste toe vanweë die pandemie nie.

Verlede jaar is die Australiese GP op die nippertjie gekanselleer nadat een van McLaren se spanlede positief vir die virus getoets is. Die Chinese GP het in 2020 ook in die slag gebly.

Formule Een het ook ander veranderinge aan sy oorspronklike kalender van 23 wedrenne vir vanjaar aangekondig.

Die Bahreinse GP sal nou die openingswedren van die seisoen op 28 Maart wees, terwyl Italië se Imola-baan by die kalender gevoeg is en op 18 April sal plaasvind.

Daar is nog nie ’n gasheerbaan vir die tydgleuf van 2 Mei aangekondig nie, maar die verwagting is dat dit Portugal se Algarve-baan sal wees.

Volgens Stefano Domenicali, die uitvoerende hoof van Formule Een, sal daar ondanks die veranderinge nie meer as 23 wedrenne vanjaar plaasvind nie.

“Die pandemie het nog nie toegelaat dat die lewe na normaal terugkeer nie, maar ons het in 2020 gewys dat ons veilig kan deelneem en was die eerste internasionale sportsoort wat hervat het. Die ervaring wat ons opgedoen het, sal ons in staat stel om ons planne weer suksesvol uit te voer.

“Dis fantasties dat ons reeds ’n nuwe datum vir die Australiese Grand Prix kon vind en ons sal voortgaan om met ons Chinese kollegas te beraadslaag om ’n oplossing vir die wedren in Sjanghai te vind,” sê Domenicali. – Reuters

Meer oor:  Stefano Domenicali  |  Melbourne  |  Grand Prix  |  Formule 1-Ren
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.