Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
‘Fan Man’ en die bisarre boksgeveg

Is dit Batman? Is dit ’n engel? Nee, dis Fan Man!

Evander Holyfield loer oor Riddick Bowe se skouer hoe James Miller amper in die bokskryt beland by Caesars Palace. Regs is die skeidsregter Mills Lane. Foto: Getty Images

Die swaargewigbokser Ruann Visser mag dalk dink hy het Maandag ’n bisarre oomblik in die bokskryt beleef toe hy in Kampsbaai uit die kryt geval het.

Dis egter niks in vergeleke met wat Evander Holyfield en Riddick Bowe op 6 November 1993 by Caesars Palace in Las Vegas moes aanskou nie.

Die Wêreldboksvereniging en Internasionale Boksfederasie se swaargewigtitels was op die spel en die twee manne het die wit waks uit mekaar gemoker.

Hulle het mekaar ook die vorige jaar aangedurf en toe het Bowe met punte oor 12 rondes gewen.

My eerste gedagte was dat iemand hulle wou uithaal.

Hierdie keer het Bowe weer goed begin, maar die ou grote het nie so hard geoefen soos hy moes nie en van die derde ronde af het hy ’n bietjie begin uitsak.

In die sewende ronde was Holyfield weer besig om ’n paar duike in Bowe se gesig te timmer toe laat sak hy skielik sy hande en kyk oopmond na die hemele.

Is dit Batman? Is dit ’n engel? Nee, dis Fan Man!

Maar toe het niemand nog van Fan Man geweet nie. Die mense het net gesien hoe daal iemand, met wat lyk soos ’n valskerm, na benede.

Later sou dit uitkom dit was ene James Miller, wat so ’n bietjie valskermsweefkuns beoefen het.

Fan Man het nie ’n goeie verwelkoming by die toeskouers gekry nie. Foto: Skermgreep

Die naam “Fan Man” het hy te danke aan die ligte enjin en skroefwaaier wat aan sy harnas vas was en waarmee hy homself kon stuur.

Miller het homself op dié geleentheid nie goed gestuur nie. Sy valskerm het aan die stellasie waaraan die ligte bo die kryt vas is, gehaak en hy het met sy een voet getrap-trap na die boonste kryt-tou en toe het hy tussen die toeskouers beland.

In die geharwar wat gevolg het, het Bowe se lyfwagte vir Miller goed opgefoeter. Bowe se swanger vrou het flou geval en van die ligte het begin blaas.

“ ’n Chaos het geheers en die reaksie van die geskokte skare was dat die indringer dalk ’n selfmoordbomaanvaller of ’n malle was wat die boksers wou doodmaak. Die ligte bo die kryt het begin ontplof en van die mense het gedink dit was geweerskote!’’ het Thomas Myler in Boxing’s Hall of Shame geskryf.

Evander Holyfield het die aand van Fan Man se manewales met punte teen Riddick Bowe gewen. Foto: Getty Images

Rock Newman, Bowe se bestuurder, was langs die kryt. Hy het twee omstrede gaste gehad, die Nation of Islam-leier, Louis Farrakhan, en die politieke aktivis Jesse Jackson.

“My eerste gedagte was dat iemand hulle wou uithaal,’’ het Newman later vertel.

Op die aand het hy soos ’n held opgetree en oor Farrakhan en Jackson geduik en sy lyf as skild gebruik.

Bowe was verward en wou sy vrou te hulp snel, maar sy is intussen hospitaal toe geneem.

Die boksers is na hul onderskeie hoeke geneem, waar hulle met komberse en handdoeke warm gehou is.

Dit lyk hier amper of Evander Holyfield besig is om uit die kryt te klim om Fan Man te gaan foeter, maar dit was eintlik teen die einde van die geveg toe hy op die toue wou rondspring omdat hy toe al besef het dat hy met punte gewen het. Foto: Getty Images

Die polisie het Fan Man weggesleep polisiestasie toe. En ’n waaghalsige toeskouer het soos Spider-Man teen die stellasies opgeklouter en die valskerm en die toue van die ligte afgetrek.

’n Volle 21 minute later is die geveg voortgesit. Die ruskansie het die minder fikse Bowe goed gedoen, maar dit was Holyfield wat ná 12 moeilike rondes met punte gewen het.

Fan Man Miller is later vir roekelose vlieëry aangekla en met borgtog van $200 vrygelaat.

Dit was nie die laaste sien van hom nie. ’n Jaar later het hy by ’n voetbalwedstryd tussen die Raiders en die Broncos in Kalifornië met sy sweefskerm probeer land.

“Onthou jy daai aand toe daai mal man met sy valskerm in die kryt gespring het?” Hierdie ouens het mekaar in drie gevegte goed opgedons. Evander Holyfield en Riddick Bowe het lekker gesels toe hulle verlede jaar by ’n geleentheid saam afgeneem is. Foto: Getty Images

’n Ruk later het hy in Bolton, Engeland, dieselfde by ’n sokkerwedstryd tussen Wanderers en Arsenal probeer doen.

Toe, in 1994, land hy op die dak van Buckingham Palace, pluk sy broek af en ontbloot sy groen geverfde agterstewe.

Holyfield en Bowe het in 1995 ’n derde keer teen mekaar geboks, weer by Caesars Palace, met Bowe wat met ’n tegniese uitklophou in die agtste ronde gewen het.

Fan Man het daardie aand darem nie weer in die kryt probeer land nie. Hy het later na Alaska toe getrek, waar hy homself in 2003 opgehang het.

  • Bronne: Boxing’s Hall of Shame – Thomas Myler; boxrec.com; sportsonearth.com; badlefthook.com.
Meer oor:  Boks  |  Ruann Visser  |  Evander Holyfield
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.