Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Schumacher kan in pa se spore volg

Mattia Binotto, die hoof van Ferrari se Formule Een-span, glo vas Michael Schumacher se seun, Mick, sal iewers in die toekoms nog vir die Scuderia jaag.

Die 20-jarige Mick, wie se pa sewe keer as F1-wêreldkampioen gekroon is, het in 2019 sy eerste seisoen as F2-renjaer voltooi en het ook ’n paar toetsrondtes in ’n Ferrari-F1-renmotor afgelê.

Mick Schumacher in 2019 ná sy oorwinning in ’n F2-wedren in Boedapest. Foto: Getty Images

Terwyl baie motorsportliefhebbers verwag het dat hy beter as 12de in sy debuutjaar in F2 sou vaar, sê Binotto dit was ’n suksesvolle seisoen.

“Ons is baie trots daarop dat hy deel is van ons akademie (FDA),” het Binotto in ’n onderhoud met Autosport.com gesê.

“Nie net omdat hy Michael Schumacher se seun is nie, maar ook omdat ek dink hy ’n goeie renjaer is, wat goed die afgelope seisoen vertoon het.

“As jy na die puntelys kyk, was dit meestal ervare jaers wat bo geëindig het. Hy was ’n groentjie en het waardevolle ervaring opgedoen.

“So ek dink die volgende seisoen sal belangrik vir hom wees, want dit sal wys hoeveel hy gevorder het as renjaer.”

Binotto wou nie ’n voorspelling waag oor wanneer hy dink Mick reg sou wees om vir Ferrari te jaag nie en sê dié span wil minstens tot ná 2021 meer ervare renjaers gebruik.

“Die doel van ons FDA is om nuwe talent te vind en dis waarom hy deel van die program is. Ek glo hy beskik oor die talent om deel daarvan te bly.”

Binotto het in 2019 in ’n onderhoud gesê die wyse waarop Mick sy oefenrondtes benader en die wyse hoe hy die renmotor met tegnici bespreek, het hom baie aan sy pa herinner.

Michael Schumacher, wat ná die 2012-seisoen uitgetree het, het in Desember 2013 ’n ernstige breinbesering in ’n ski-ongeluk in Frankryk opgedoen. Hy word die laaste jare tuis versorg en daar is ’n sluier van geheimhouding oor sy toestand. – PlanetF1.com; Wheels24.com

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.