Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Fietsryer Dlamini bly oor Spele in 2021

Die Suid-Afrikaanse padfietsryer Nicholas Dlamini het die afgelope week ’n sug van verligting geslaak toe die Olimpiese Spele weens Covid-19 tot 2021 uitgestel is.

Dlamini (24), wat vir die plaaslike beroepspan NTT ry, was laat in 2019 in die nuus toe sy arm gebreek is tydens ’n onderonsie met wagte by die Tafelberg Nasionale Park.

Die Suid-Afrikaanse fietsryer Nicholas Dlamini tydens die Tour Down Under in 2018 in Australië. Foto: Getty Images

Die besering het hom nie net lank van sy fiets af gehou nie, maar ook twyfel laat ontstaan of hy oorweeg sou kon word vir die Spele wat in Julie in Tokio, Japan, sou begin.

“Dit was altyd my droom om aan die Olimpiese Spele deel te neem, en dit sou ’n groot prestasie vir my wees om die kleure met trots te dra en myself goed van my taak te kwyt,” sê Dlamini in ’n verklaring van NTT.

“Noudat dit uitgestel is, gee dit my meer tyd om beter voor te berei, aangesien ek net ’n paar maande tot my beskikking gehad het. So ek was nie heeltemal seker, of vol vertroue dat ek teen Junie reg sou wees nie.

“Aangesien die Spele nou in 2021 is, weet ek dat ek baie tyd tot my beskikking het om myself voor te berei en myself in ’n goeie toestand te kry,” sê hy.

Dlamini was eers laat in Februarie terug in die saal, en kon weens die besering ook nie vroeër vanjaar aan die Suid-Afrikaanse padkampioenskappe deelneem nie.

Dié boorling van Kaapstad word as een van die nuwe geslag se Jong Turke in plaaslike fietsry beskou, en het in 2019 sy buiging in die prestigeryke Vuelta a España gemaak.

Dit is lekker om buite te wees en terug te kom na waar ek eers was.
Nicholas Dlamini

Hy is tans in Nederland, waar self-isolasie nog nie geld nie, en erken die tyd weg van sy fiets was om die minste te sê frustrerend.

“Ek het tien weke binnenshuis geoefen, en ek dink dit was meer as genoeg. Ek het regtig daarna uitgesien om buite te wees en tyd op my fiets deur te bring.

“Ek het so lank gewag vir die dag en dit het uiteindelik aangebreek. Dit is lekker om buite te wees en terug te kom na waar ek eers was,” sê Dlamini.

Hy vertel dat die Covid-19-pandemie ook in Nederland ’n invloed op sy leefwyse het – soos in die geval van die meeste sportmanne en -vroue die wêreld oor.

“Dit is nogal ’n groot ding hier en almal is bewus daarvan. Ek probeer om aan so min dinge as moontlik te raak terwyl ek in my daaglikse roetine is, en ek oefen ook op my eie.

“In Nederland word jy tans nog toegelaat om buite te oefen, maar dit is uit die aard van die saak beter as jy op jou eie oefen. Ek hou ook ’n veilige afstand wanneer ek winkels toe gaan,” sê Dlamini.

* Daar is intussen sprake dat die Tour de France, die wêreld se mees prestigeryke fietstoer, wat op 27 Junie moet begin, sonder toeskouers kan plaasvind.

Die BBC berig dié drastiese stap word oorweeg weens Covid-19 wat die sportwêreld basies tot stilstand gebring het.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Tokio Spele  |  Koronavirus  |  Nicholas Dlamini  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.