Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Tyson-geveg is ‘tydelike waansin’

Mike Tyson en Roy Jones junior se vertoongeveg Saterdag in Los Angeles is deur die voormalige swaargewigkampioen George Foreman as “tydelike waansin” beskryf.

Mike Tyson (links) en George Foreman poseer by ’n geleentheid wat verlede jaar in Las Vegas gehou is. Foto: Getty Images

Tyson 54) en Jones (51) pak mekaar in die Staples-sentrum ten bate van liefdadigheid.

“Dis tydelike waansin. Ek vergelyk dit met ’n ou wat op ’n boot wil uitgaan op die see. Dit klink na soveel pret, so vreedsaam, so hy wil uitgaan en dit doen,” het Foreman (71) aan Yahoo! Sports gesê.

“Dan kom hy daar en die groot golwe begin inrol, die see is rof en dit reën en die wind waai en hy vra homself af: ‘Liewe hemel, waarom het ek dit ooit gedoen?’”

Hoewel dit net ’n vertoongeveg is waarin die twee manne nie veronderstel is om mekaar uit te slaan nie, het dit baie boks-ondersteuners behoorlik op hol.

En hoewel dit veronderstel is om ’n geveg te wees waarin geld vir liefdadigheid ingesamel word, gaan die twee boksers beslis ook nie met leë hande huis toe nie.

Volgens die webwerf bjpenn.com sal Tyson $10 miljoen en Jones $3 miljoen verdien.

Daar is ook verskeie voorgevegte op die program waarin daar volgens die gewone reëls baklei sal word.

In een van hulle kom Badou Jack, wat al in twee gewigs-afdelings ’n wêreldkampioen was, teen Blake McKernan te staan in die afdeling vir ligswaargewigte.

“Ek was ietwat geskok toe Tyson-hulle my gevra het om te hoor of ek in ’n voorgeveg wou baklei. Dis bra aardig, maar ek was altyd ’n groot bewonderaar van Mike en Roy en is nou ook vriende met hulle altwee, so dit gaan lekker wees,” het Jack aan Boxing Scene gesê.

Badou Jack, hier in aksie teen Marcus Browne, boks in ’n voorgeveg wanneer Mike Tyson en Roy Jones mekaar Saterdag pak. Foto: Getty Images

Jack, wat vroeg volgende jaar weer teen die huidige Wêreldboksvereniging-kampioen Jean Pascal boks, het bygevoeg dat hy McKernan ’n behoorlike boksles wil gee.

“Hy praat die hele tyd soos ’n mal ding, so dit motiveer my,” het Jack gesê.

In nog ’n voorgeveg kom die voormalige swaargewigkampioen Hasim Rahman se seun, Hasim Rahman junior, teen Rashad Coulter te staan.

Rahman junior is nog onoorwonne ná nege gevegte in die geldkryt.

Daar sal op die aand van die toernooi ook verskeie musieksterre, soos Lil Wayne en French Montana, optree.

*Kyk hier hoe boks Badou Jack verlede jaar voort ten spyte van ’n kwaai sny wat hy in sy geveg teen Marcus Browne opgedoen het: https://www.youtube.com/watch?v=hiFApZt86VU

Meer oor:  Roy Jones Jr.  |  Mike Tyson  |  Boks  |  Boksgeveg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.