Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
F1 rou ná 26 jaar steeds oor Senna
’n Graffiti-portret van Ayrton Senna in ’n straat in São Paulo verlede maand. Dié Formule Een-held, wat in 1994 dood is, is nog lank nie vergete in sy tuisland, Brasilië – of elders in die sportwêreld nie. Foto: Getty Images

’n Bronsgedenkplaat op ’n grasperk in São Paulo se Morumbi-begraafplaas herdenk die laaste rusplek van iemand wat deur talle beskou word as die grootste Formule Een-renjaer van alle tye.

“Niks kan my skei van die liefde van God nie,” lui die inskrywing onder die naam van Ayrton Senna da Silva.

Dié Brasiliaan, ’n driemalige wêreldkampioen, was 34 jaar oud toe hy gesterf het in ’n botsing in die San Marino-Grand Prix in Italië.

Elke sport het sekere spesiale dae en 1 Mei 1994 is verewig in die siel van Formule Een, ’n grou Sondag, wat die sportwêreld in rou gedompel het.

God het sy hand vir lank oor Formule Een gehou. Daardie dag het Hy dit weggevat.
Niki Lauda

“God het sy hand vir lank oor Formule Een gehou. Daardie dag het Hy dit weggevat,” het nóg ’n driemalige kampioen, wyle Niki Lauda, destyds gesê.

Daar was meer as ’n miljoen mense in die strate tydens sy begrafnis en nog vele meer in die strate van sy geboorteplek. Hulle rou steeds oor hom.

“Hy het my geïnspireer as ’n kind en hy is steeds vandag ’n held en sal dit altyd wees,” sê die sesmalige wêreldkampioen Lewis Hamilton.

Ayrton Senna in sy Williams-renmotor kort voor sy dood in 1994. Foto: Getty Images

F1-ondersteuners sal ook die Oostenryker Roland Ratzenberger onthou, wat die vorige dag in die kwalifiserende rondes vir die San Marino-GP dood is en die eerste Formule Een-renjaer in 12 jaar geword het om op die baan te sterf.

Senna het dit hard gevat.

“Ayrton was buite homself. Hy was nog nie so naby aan die dood op die renbaan nie. Daar was baie ongelukke en beserings, maar niemand het toe nog hul lewe verloor nie,” het ’n mediese afgevaardigde en een van Senna se vertrouelinge, die neurochirurg en wyle Sid Watkins, destyds onthou.

Hy het voorgestel dat Senna nie die volgende dag jaag nie, maar Senna het gesê: “Daar is sekere dinge waaroor ons geen beheer het nie. Ek kan nie kop uittrek nie, ek moet aangaan.”

Hy was in die voorste ry op die wegspringrooster, met Michael Schumacher langs hom.

Daar is sekere dinge waaroor ons geen beheer het nie. Ek kan nie kop uittrek nie, ek moet aangaan.
Ayron Senna

Die veiligheidsmotor is ontplooi nadat die Portugees Pedro Lamy in die Finse jaer JJ Lehto vasgery het met die wegspring.

Met die hervatting het Senna in die tweede rondte van die baan gejaag en in ’n muur vasgery. Hy is hospitaal toe gevlieg en twee en ’n half uur later is daar aangekondig dat hy dood is.

Ayrton Senna (links) en Alain Prost was aartsvyande op die renbaan. Foto: Getty Images

Dit was slegs sy derde wedren vir Williams nadat hy McLaren verlaat het.

Daar is al baie geskryf oor daardie middag en ook Senna se legendariese tweestryd met die Fransman Alain Prost. Baie vrae is ook al gevra oor wat die ongeluk veroorsaak het.

Wat wel seker is, is dat dit Formule Een vir altyd verander het. As Senna sy ongeluk oorleef het, sou Schumacher dalk nie sewe wêreldtitels gewen het nie.

Die Brasiliaan se voormalige McLaren-spanmaat Gerhard Berger het verlede jaar, op die 25ste herdenking van sy dood, gesê as Senna sou geleef het, sou hy die sport waarskynlik vir nog vyf jaar oorheers het. – Reuters

Meer oor:  Ayrton Senna  |  Niki Lauda  |  Brasilie  |  Formule Een  |  Sterf  |  Legende  |  Motorsport  |  Grand Prix
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.