Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Foster: Man met ‘houe soos muilskoppe’
Bob Foster was een van die beste ligswaargewigkampioene. Foto: Getty Images

Op Vrydag 27 Maart was dit 59 jaar sedert ’n lang, maer Amerikaner, wat later deel van ’n geskiedkundige gebeurtenis in Suid-Afrikaanse geskiedenis sou word, sy debuut as beroepsbokser gemaak het.

Die Amerikaanse bokser se naam is Bob Foster en in ons land sal sy naam altyd aan dié van Pierre Fourie gekoppel wees.

Foster en Fourie het mekaar in 1973 twee keer gepak. Die tweede kragmeting was die eerste beroepsboksgeveg tussen ’n swart en ’n wit man in Suid-Afrika.

Die program van Bob Foster en Pierre Fourie se geveg in Suid-Afrika in 1973.

In sy debuut op 27 Maart in 1961 as beroepsbokser het Foster vir Duke Williams in die Capitol-arena in Washington, in die tweede ronde uitgeslaan.

Dit was die eerste van vele uitklopoorwinnings en teen die middel van die 1960’s was hy op die randjie van ’n wêreldtitelgeveg.

Die kampioen, José Torres van Puerto Rico, wou egter niks van die gevaarlike Foster weet nie.

“Wanneer boks jy teen Bob Foster?” is Torres op ’n mediakonferensie gevra.

“Jammer, ek kan jou nie hoor nie,” het Torres geantwoord.

Die koerantman het sy vraag herhaal.

Waarop Torres sy antwoord herhaal het.

Bob Foster het altwee sy gevegte teen Pierre Fourie gewen, maar kon nie die Suid-Afrikaner uitslaan nie. Foto: Die Burger

Foster sou eers in Mei van 1968 sy titelkans teen Dick Tiger van Nigerië, wat toe die kampioen was, kry.

Die Amerikaner het Tiger met ’n uitklophou in die vierde ronde van hul geveg in Madison Square Garden in New York verpletter.

Die een ligswaargewig na die ander is deur Foster pap geslaan.

Toe besluit Foster om die swaargewigte te pak. Dit was egter ’n minder suksesvolle ekskursie.

Joe Frazier het Foster in die tweede ronde uitgeslaan en Muhammad Ali het hom in die agtste ronde uitgeknikker.

“Ons was vriende, dit was net besigheid,” het Foster jare later aan The Ring verduidelik.

“Daar was nie groot geld in my afdeling nie, ek kon $100 000 (per geveg) maak, maar hierdie ouens (Frazier en Ali) het $300 000 gemaak. Ek het hulle toe gevra om my ’n kans te gee en hulle het dit gedoen.”

As ’n mens net na die uitslae van sy gevegte teen Frazier en Ali kyk, lyk dit of Foster nie in dieselfde kryt as hulle gehoort het nie.

Die waarheid is egter meer prikkelend.

Bob Foster lyk maar bra verlig om ná sy tweede geveg teen Pierre Fourie as die wenner aangewys te word. Foto: Die Burger

In die eerste ronde van sy geveg teen Frazier het Foster die swaargewigkampioen byna katswink geslaan.

Tydens die ruskans het Frazier se helpers hard met hom gepraat en hy storm toe lekker opgewerk uit vir die tweede ronde en laat waai met sy berugte linkerhaakhou.

“Ek was in die kleedkamer, besig om my skoene aan te trek, toe een van my afrigters dit weer vir my uittrek,” het Foster later onthou.

“‘Wat doen jy?’ wou hy weet. ‘Ek maak reg vir die geveg,’ het ek geantwoord. ‘Maar Bob, dis verby. Joe het jou in die tweede ronde uitgeslaan,’ het die afrigter gesê.”

Foster het Ali se oogbank in hul kragmeting stukkend geslaan, maar was nie regtig opgewasse teen hom nie.

Jare later het hy Ali altyd as sy beste, vinnigste en slimste teenstander beskryf.

Ali het op sy beurt gesê dat Foster se houe so hard soos “muilskoppe” was.

Ali en Foster het in 1972 teen mekaar baklei. Die volgende jaar het Fourie sy kans teen Foster gekry.

Fourie het na Alburquerque in die Amerikaanse deelstaat Nieu-Mexiko gereis om Foster aan te durf.

Die Suid-Afrikaner het die kampioen kwaad gemaak toe hy by die inweeg ’n vriendelike woordjie met hom gewissel het.

Bob Foster in 2001 in New York saam met Felix Trinidad van Puerto Rico, wat toe die Wêreldboksvereniging se middelgewigkampioen was. Foto: Getty Images

“Tonight’s the night, boy,” het Fourie gesê.

Foster het gedink Fourie maak ’n rassistiese aanmerking en het kwaai tekere gegaan.

Hoewel Foster die geveg redelik maklik met punte gewen het, het Fourie se moedige vertoning van hom ’n held in Suid-Afrika gemaak.

Foster was gedaan ná die geveg. Fourie het hom boeglam geskrik toe hy die Amerikaner in sy kleedkamer gaan gelukwens met sy oorwinning.

Foster was flou van uitputting en sy vrou het hartstogtelik langs hom sit en huil.

“Dit is die absolute waarheid, ek het dit met my eie oë gesien,” het Fourie gesê.

’n Paar maande later, op 1 Desember 1973, het die twee mekaar weer gepak.

Vir dié geveg in die Randse stadion is wette omseil en reëls herskryf. Dit sou die eerste keer sedert boks in 1923 onder wettige beheer in Suid-Afrika gekom het dat ’n wit en ’n swart man mekaar voor ’n skare van verskillende rasse in ’n beroepsboksgeveg sou pak.

Fourie het weer ’n moedige vertoning gelewer en die punteverskil in sy nederlaag was dié keer kleiner.

Foster het Fourie agterna geprys: “Julle man is te klein vir die ligswaargewigafdeling. As hy ’n middelgewig gebly het, sou hy in die klas van Sugar Ray Robinson gewees het. Hy is slim, baie vinnig en ek het nog nooit voorheen teen so ’n taai man geboks nie,” het Foster gesê.

Fourie het op 21 Junie 1980 ná ’n motorongeluk in die ouderdom van 36 jaar gesterf.

Foster was 76 jaar oud toe hy op 21 November 2015 dood is.

  • Bronne: The Fighters – Chris Greyvenstein; www.ringtv.com; www.britannica.com; www.independant.co.uk.


Meer oor:  Boks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.