Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Chris, Geraint se weglating ‘eerbiedloos’

Die Ineos-fietsryspan het ’n “gebrek aan respek” getoon toe hy die Britse fietsryers Chris Froome en Geraint Thomas Woensdag oor die hoof gesien het vir die prestigeryke Tour de France wat op 29 Augustus begin.

Chris Froome (links) en Geraint Thomas (middel) gedurende 2018 se Tour de France. Foto: Getty Images

“Ek dink dit is baie teleurstellend en was ’n eerbiedlose besluit om Chris en Geraint weg te laat. Ineos was en is nog altyd ’n baie mededingende span wat die beste moontlike uitslae wil behaal, maar dit lyk baie sleg om hulle (albei voormalige Tour-kampioene) weg te laat,” sê Robert Hunter, ’n voormalige beroepsryer van Suid-Afrika.

Die 43-jarige Hunter weet waarvan hy praat, hy was die eerste Suid-Afrikaner om ’n skofoorwinning in die Tour te behaal toe hy die 11de skof in 2007 gewen het. Hy ken Froome (35) en Thomas (34) ook baie goed, aangesien hulle in 2008 en 2009 spanmaats by Barloworld was.

“Hulle kon albei steeds waarde tot die span toegevoeg het. Ek dink in Froome se geval het hy dit gesien kom, maar dit is ’n skok dat Geraint weggelaat is.

“Die ander ding is dat Geraint (hy is in 2018 met die Orde van die Britse Ryk beloon) baie meer Brits as Froome is (wat in Kenia gebore is), en ook meer aanvaarbaar is vir die Britte (Ineos is ’n Britse span). Geraint sal beslis geskok en baie teleurgesteld wees,” sê hy.

Geraint Thomas (links) op die podium toe hy die Tour de France in 2018 gewen het. Chris Froome was daardie jaar derde. Foto: Getty Images

Nadat Froome in 2019 op die Critérium du Dauphiné gedurende ’n oefenrit geval en omtrent by die dood omgedraai het, het hy vroeg vanjaar ’n terugkeer tot fietsry gemaak. Dit nadat hy die Tour weens dié beserings in 2019 misgeloop het.

Maar hy het duidelik gesukkel om by te hou en het die afgelope naweek algeheel 71ste in die Dauphiné geëindig. Daar is reeds vroeër vanjaar aangekondig dat hy hom aan die einde van die seisoen by Israel Start-Up Nation aansluit.Min het Thomas, ’n Wallieser, se weglating sien kom. Hy was die afgelope naweek 37ste in die Dauphiné, maar Bradley Wiggins, wat die Tour in 2012 gewen het, het nog vroeër vandeesmaand voorspel dat Thomas, 2019 se naaswenner, vanjaar met die louere gaan wegstap.

Volgens ’n verklaring van Ineos sal Froome vanjaar vir die Vuelta a España en Thomas vir die Giro d’Italia aantree. Die Colombiaan Egan Bernal, wat die Tour in 2019 gewen het, sal sy span se aanslag in die wêreld se mees prestigeryke wedren lei.

Robert Hunter ry met ’n gebalde vuis oor die wenstreep om die 11de skof van die Tour de France in 2007 te wen. Foto: Getty Images

Maar Hunter twyfel of die 23-jarige Bernal vanjaar weer as kampioen gekroon gaan word. Boonop glo hy dat Ineos (tevore Sky), wat sedert 2012 met die uitsondering van 2014 die wenner opgelewer het, se troon wankel.

“Ek dink nie Egan staan ’n kans om vanjaar te wen nie, bloot omdat sy peil net nie die laaste ruk op standaard is nie.

“Die ander ding is dat sy spanmaats ook nie is waar hulle moet wees nie, dus is daar ’n goeie kans dat ’n ander span vanjaar die wenner gaan oplewer,” sê Hunter.

“In die Tour werk dit omtrent nog altyd so dat een ryer vir drie tot vyf jaar sake oorheers en dan kom iemand anders en wen. Dit is hoekom ek dink iemand soos Pinot (die Fransman Thibaut Pinot, wat vir Groupama-FDJ ry) kan vanjaar wen – of selfs iemand heeltemal onbekend.”

Ineos se span vir die Tour: Andrey Amador, Egan Bernal, Richard Carapaz, Jonathan Castroviejo, Michal Kwiatkowski, Luke Rowe, Pavel Sivakov, Dylan van Baarle.


Meer oor:  Ineos  |  Tour De France  |  Geraint Thomas  |  Chris Froome  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.