Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Froome het tweekuns vir fietsry in visier

Die Brit Chris Froome wil hom as een van die grotes in die annale van fietsry verewig deur eersdaags ’n unieke tweekuns te behaal.

Froome, wat onlangs sy vierde Tour de France-titel gewen het, gaan nou ook poog om die Vuelta a España in dieselfde jaar te wen.

Chris Froome in aksie in vanjaar se Tour de France. Foto: Getty Images

Dié Spaanse fietstoer begin Saterdag in Nimes, Frankryk, en eindig 21 skofte later op 10 September in Madrid.

Slegs die Fransmanne Jacques Anquetil (1963) en Bernard Hinault (1973) kon al dié prestasie vermag.

Maar toe hulle dit reggekry het, was die fietstoer in April en Mei.

Froome, daarteenoor, sou teen die wegspring slegs 25 dae gehad het om te herstel van die uitmergelende Tour de France.

Jacques Anquetil Foto: Getty Images
Bernard Hinault Foto: Getty Images

Hy is nietemin optimisties oor sy kanse om geskiedenis te maak.

“Ek het ’n gulde geleentheid en ek gaan voluit daarvoor gaan,” sê hy.

“Die Vuelta is ’n wedren waarvoor ek baie lief is. Dis moeilik, maar dis drie weke wat ek terdeë geniet.”

Dié Brit was al ’n paar keer strooijonker in die Vuelta. In 2011 was sy algehele tyd slegs 13 sekondes stadiger as die wenner, Juan José Cobo. In 2014 en 2016 moes hy ook met die tweede plek tevrede wees.

Verlede jaar het ’n taktiese fout deur Froome se span, Team Sky, hom van die kans beroof om ’n aanslag op die titel te maak.

Wanneer Froome in Nimes wegspring, sal hy ’n paar bekende gesigte sien. Die Italianer Fabio Aru, mede-Brit Simon Yates en Fransman Romain Bardet (derde in Tour) sal hom in die drie week lange toer uitdaag.

Die wedren begin met ’n spantydtoets en daar sal slegs een individuele tydtoets in die toer wees. Dit sal egter oor ’n plat roete van 42 km strek, iets wat Froome soos ’n handskoen sal pas.

Nog ’n teenstander wat Froome fyn sal moet dophou, is die Italianer Vincenzo Nibali. Hy en Alberto Contador, wat gaan uittree ná die Vuelta, spog albei met titels in al drie die groot fietstoere (die Giro d’Italia, Tour de France en Vuelta). Slegs ses fietsryers kon dié prestasie al vermag.

Die verdedigende Vuelta-kampioen, Nairo Quintana, sal nie vanjaar in aksie wees nie. Volgens dié Colombiaan is hy uitgebrand nadat hy vroeër gepoog het om die Giro én Tour te wen. – Reuters

Meer oor:  Tour De France  |  Vuelta A Espana  |  Chris Froome
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.