Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Froome-hulle slaags in virtuele Tour
Die Brit Chris Froome in die geeltrui tydens 2016 se Tour de France. Foto: Getty Images

Die wêreld se voorste fietsryers, wat die viermalige Tour de France-kampioen Chris Froome insluit – sal mekaar van Saterdag af die stryd aansê in die eerste virtuele weergawe van die wêreld se mees prestigeryke wedren.

Toe bykans die hele wêreld weens die Covid-19-pandemie vroeër vanjaar ’n inperkingstyd moes binnegaan, het dit ook fietsryers genoop om nuwe maniere te vind om steeds die speke te laat sing.

Dit het toe iets alledaags vir fietsryers geword om op ’n binnenshuise oefenapparaat, met ’n TV- of rekenaarskerm wat aan Zwift gekoppel is, te oefen. Dié tegnologie laat ryers toe om in ’n virtuele omgewing steeds as’t ware saam met en teen ander ryers te ry.

Nou het Zwift besluit om die eerste virtuele Tour aan te bied, met die eerste skof wat Saterdag beslis sal word. Die Tour sal uit ses skofte bestaan, met twee wat oor elk van die eerste drie naweke van Julie beslis sal word.

Dit is hoe dit in die virtuele wêreld lyk waar fietsryers mekaar die stryd aansê. Foto: Getty Images

Van die wêreld se voorste ryers, wat Froome, Geraint Thomas en Egan Bernal (almal Tour-kampioene wat vir die Ineos-span ry) insluit, het reeds aangedui dat hulle gaan deelneem. Daar sal ook vroueryers in aksie wees, met die Nederlander Marianne Vos, ’n driemalige wêreldpadkampioen, een van die trekpleisters.

Die skofte sal heelwat korter wees as wat die geval met die ware Jakob is, met elk wat ryers sowat ’n uur sal neem om te voltooi. Saterdag se eerste is oor 36,4 km, met ryers wat hulself in die virtuele wêreld in Nice sal bevind.

En net soos in die regte Tour, sal die geeltrui ook ná elke skof aan die algehele voorloper – wat volgens punte eerder as tyd bepaal sal word – gaan.

Vir ondersteuners van fietsry sal dit iets wees om na uit te sien, aangesien die Tour – die hoogtepunt op die jaarlikse fietsrykalender – vandeesweek in die einste Nice sou begin het. Weens die virussiekte sal die speke nou eers op 29 Augustus begin sing.

Eric Min, uitvoerende hoof van Zwift, sê in ’n verklaring van die Tour daar is niks groter in fietsry as dié skouspel nie.

“Sedert ek ’n seun was, het ek nog altyd vir drie weke in Julie voor die televisie vasgenael gesit, so ek voel baie bevoorreg dat Zwift vanjaar gasheer kan wees vir die eerste virtuele weergawe.

Die virtuele Tour gaan ’n viering van die byeenkoms wees, met die voorste mans- en vroueryers wat in aksie gaan wees.
Eric Min

“Natuurlik sien ons almal daarna uit dat wedrenne in Augustus hervat, maar die goeie nuus is dat daar nou steeds in Julie gery gaan word. Die virtuele Tour gaan ’n viering van die byeenkoms wees, met die voorste mans- en vroueryers wat in aksie gaan wees,” sê Min.

Fietsrygeesdriftiges wat daarvan hou om self die speke te laat sing, kan in hul sitkamers aan die l’Étape du Tour de France – wat op massadeelname fokus – deelneem.

• Die Suid-Afrikaanse NTT-span sal Woensdag sy span vir die virtuele Tour aankondig. – Sportredaksie

Meer oor:  Egan Bernal  |  Geraint Thomas  |  Chris Froome  |  Brittanje  |  Frankryk  |  Suid-Afrika  |  Tour De France  |  Virtuele Toer  |  Covid-19  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.