Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Froome sal sirkel in Spanje voltooi

Wanneer die Britse fietsryer Chris Froome oor ’n rapsie minder as twee maande vir die Vuelta a España aantree, sal dit met heimwee wees, want dit was daar in Spanje, waar hy jare gelede iets aan homself bewys het.

Chris Froome in aksie in die 2017 Tour de France. Foto: Getty Images

Baie water het in die see geloop sedert Froome (35) in 2011 tweede in die Vuelta geëindig het. Dié titel is in 2019 terugwerkend aan hom toegeken nadat die destydse wenner, Juan José Cobo (Spanje), van sy kroon gestroop is weens die gebruik van opkikkers.

Froome was by die Vuelta ter ondersteuning van sy spanmaat Bradley Wiggins – wat vooraf as een van die gunstelinge beskou is. Maar die Keniaan van geboorte het toe op die voorgrond getree en gewys dat hy ook van die regte stoffasie gemaak is om ’n Grand Tour (Tour de France, Giro d’Italia en Vuelta) te wen. En wen het hy gewen, want vandag spog hy met sewe seges in die Groot Drie van die fietsrywêreld.

Maar tye het verander. Vroeër vanjaar is aangekondig dat Froome Ineos, wat die afgelope week na die Ineos Grenadiers herdoop is, aan die einde van die seisoen gaan verlaat. Vir baie was dit ’n skok, aangesien Froome vir die meeste van dié span se sukses die afgelope dekade verantwoordelik was.

Chris Froome in 2017 in die rooitrui van die algehele voorloper in die 11de skof van die Vuelta a España. Foto: Getty Images

Maar dit was nog nie die ergste nie. Want verlede week is Froome, wat die Tour vier keer gewen het, en Geraint Thomas, 2018 se kampioen, uit Ineos se span gelaat vir vanjaar se wedren, wat Saterdag in Nice begin.

In ’n verklaring is gesê dat Froome vanjaar op die Vuelta, wat hy ook in 2017 gewen het, gaan fokus – daar waar alles vir hom begin het.

En hierdie keer moet hy weer iets aan homself bewys, want sedert Froome se terugkeer vroeg in 2020 het hy maar effentjies vertoon (om dit mooi te stel). Daar word al hoe meer vrae gevra of hy nog genoeg murg in sy pype het om weer ’n Grand Tour te wen.

“Dit is ’n snaakse gevoel, maar terselfdertyd ook ’n sentimentele gevoel. Dit was by die Vuelta a España dat ek nege jaar gelede met hierdie span werklik ontdek het dat ek ’n aanspraakmaker in ’n Grand Tour is. So dit is spesiaal om dit nou weer in my laaste wedren by Ineos te doen,” het Froome volgens die webtuiste cyclingnews.com gesê.

“Dit is ’n wedren wat ek nog altyd geniet het om aan deel te neem.”

Dave Brailsford, spanbestuurder van Ineos, en Chris Froome in 2019. Foto: Getty Images

Froome se laaste Grand Tour was die Tour de France in 2018, toe hy met die derde plek tevrede moes wees. Hy sluit hom aan die einde van die seisoen by Israel Start-Up Nation aan en het reeds die Suid-Afrikaner Daryl Impey aan boord gekry vir 2021, wanneer hy hoop om die Tour ’n vyfde keer te wen.

Intussen het Dave Brailsford, Ineos se bestuurder, bewerings van ’n stram werkverhouding tussen hom en Froome ontken.

“Ons het vandag gepraat en het ’n goeie werkverhouding. Daar is ’n verskil tussen ’n persoonlike en ’n professionele verhouding. Om nie die span vir die Tour te haal nie, bring nie ’n einde aan die reis nie,” het Brailsford volgens The Guardian gesê.

“Hy is steeds op koers, maar daar is geen nut daarin om Chris Froome na die Tour te neem en dan dra hy net water aan nie.”


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.