Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Froome trap in 2021 vir span van Israel

Die Britse fietsryer Chris Froome, viermalige wenner van die Tour de France, sal van 2021 vir die Israel Start-Up Nation-span ry nadat sy kontrak met Ineos nie hernu is nie.

Ineos het in ’n verklaring aangekondig dat die verbintenis tussen hom en Froome (35), wat oor meer as ’n dekade strek, in Desember verstryk.

Chris Froome dra die geeltrui in 2016 se Tour de France. Foto: Getty Images

Froome, ’n boorling van Kenia, het sedert 2010 vir Sky, soos Ineos tevore bekend gestaan het, gery en was die span se groot steunpilaar en uitblinker. Hy het die Tour in 2013, 2015, 2016 en 2017, die Giro d’Italia in 2018 en die Vuelta a España in 2011 en 2017 gewen.

Weens ernstige beserings wat hy tydens ’n ongeluk in 2019 opgedoen het, het Froome 2019 se Tour misgeloop, met sy spanmaat Egan Bernal van Colombia wat toe gewen het. Boonop het nog ’n ryer van Ineos, die Brit Geraint Thomas, die Tour in 2018 gewen. Al drie dié ryers het hul oog op glorie in vanjaar se Tour, wat op 29 Augustus begin – iets wat die laaste maande tot vrae oor die span se dinamika vir die skouspel, wat in Nice begin, gelei het.

Daar was selfs sprake dat Froome Ineos voor die Tour kan verlaat om by ’n span aan te sluit waar hy weet sy spanmaats in sy belang sal optree.

Selfs die plaaslike NTT-span is vroeër as ’n moontlike nuwe tuiste vir die Brit genoem.

“Chris se huidige kontrak verstryk aan die einde van Desember en ons het die besluit geneem om dit nie te hernu nie. Ons maak die aankondiging vroeër as wat die geval gewoonlik sal wees, sodat bespiegelings oor sy toekoms kan ophou en Ineos kan fokus op die seisoen wat voorlê,” sê Dave Brailsford, spanbaas van Ineos, in ’n verklaring.

“Ons het baie goeie herinneringe van oor die jare, maar ek glo hierdie is die regte besluit vir Chris en die span. Gegewe wat hy al bereik het, is Chris gretig om alleen die leierskap in die span te hê vir die volgende hoofstuk in sy loopbaan, maar dit is ongelukkig nie iets wat ons kan waarborg nie.”

Froome sê in die verklaring dat hy uitsien na die nuwe uitdagings, maar dat sy fokus vir eers daarop is om ’n vyfde Tour-sege te behaal saam met Ineos. – Sportredaksie


Meer oor:  Ineos  |  Tour De France  |  Israel Start-Up Nation  |  Chris Froome  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.