Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Froome vestig hom as fietsryreus

Chris Froome het hom Sondag by die kolosse van fietsry aangesluit toe hy die Vuelta a España in dieselfde jaar as die Tour de France gewen het.

Chris Froome het die Tour de France en Vuelta a España in een seisoen gewen. Foto: Getty Images

Hy was die eerste fietsryer sedert die Fransman Bernard Hinault in 1978 wat daarin kon slaag om albei dié toere in dieselfde jaar te wen.

Jacques Anquetil, ook ’n Fransman, het dit in 1963 ook vermag.

Froome is egter die eerste ryer wat dié dubbel kon wen sedert die Vuelta se wegspring van April na laat Augustus, wanneer temperature in Spanje op hul hoogste is, verskuif is.

Selfs al het Froome die Tour de France in onlangse jare oorheers, met vier oorwinnings in vyf toere en drie seges in ’n ry, het ’n sege hom in die Vuelta bly ontwyk.

“Ek dink om die Tour en Vuelta in een seisoen te wen is waarskynlik my grootste prestasie,” het Froome ná sy oorwinning gesê.

“Ek moet noem dit is waarskynlik die taaiste groot fietstoer waaraan ek nóg deelgeneem het. Daar was elke dag iets anders wat gebeur het.

“Daar was goeie dae en dan is daar dae wat ek op die grond gelê en bloei het en gedink het my toer is verby. Dit was absoluut genadeloos.”

Ses jaar gelede het Froome, wat in Kenia gebore is, homself in die Vuelta van ’n onbekende fietsryer tot ’n ernstige titelaanspraakmaker met ’n sterk vertoning in die berge omskep.

Hy het daardie jaar tweede geëindig en het die kroon met 13 sekondes misgeloop.

Chris Froome / Foto: Getty Images

Daardie onverwagse, maar merkwaardige vertoning het ’n brandende begeerte om die Vuelta te wen by Froome laat posvat. Hy het vierde in 2012 geëindig en weer tweede in 2014 en 2016. Hy moes hom in 2015 onttrek nadat hy sy voet gebreek het.

“Chris glimlag nou meer as toe hy die Tour de France gewen het,” het David Lopez, ’n Team Sky-spanmaat van Froome, gesê.

“Hy het die Tour de France al vier keer gewen, so die Vuelta was vir hom ’n groter en meer gekompliseerde uitdaging. Dis een wat hy baie graag wou wen.”

Julie Harrington, uitvoerende hoof van Fietsry Brittanje, het gesê Froome is nou een van Brittanje se grootste sportsterre nóg.

“Om die Tour en Vuelta in dieselfde jaar te wen, plaas hom in dieselfde kategorie as die beste ryers tot nog toe. Die fietsrygemeenskap hier is baie trots op hom.”

Die oorwinning bring ook verligting aan Team Sky, Froome se span, nadat die span sedert 2011 in omstredenheid gehul is nadat ’n verdagte pakkie by die Criterium du Dauphine by die span afgelewer is.

Daar is verlede jaar beweer daar was verbode middels in die pakkie, maar die span hou vol dit het wettige griepbehandeling bevat.

Froome het in Junie gesê die span het hom nog nooit verbode middels aangebied nie en hy is nie bewus van enige spanmaats wat dit neem nie. 

– Reuters

Meer oor:  Tour De France  |  Vuelta A Espana  |  Chris Froome  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.