Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Froome weet dis ‘ver pad’ na 5de Tour-sege
Chris Froome in 2017 tydens die 21ste skof van die Tour de France. Dit was die laaste jaar wat hy daar koning gekraai het. Foto: Getty Images

Die Britse fietsryer Chris Froome se droom van ’n vyfde sege in die Tour de France is welbekend – tog het hy vandeesweek erken dat hy “nog ’n ver pad het om te loop” om sy peil te herwin.

Froome (35) se loopbaan as fietsryer én sy lewe het aan ’n draadjie gehang toe hy in 2019 tydens die Critérium du Dauphiné teen ’n muur gebots het.

Sy terugkeer tot fietsry in 2020 was beskeie. Hy is oor die hoof gesien vir die Ineos Grenadiers se span vir die Tour.

Chris Froome meen hy het nog genoeg stoom om die Tour de France ’n vyfde keer te wen. Foto: Getty Images

Daarna is aangekondig dat sy fokus eerder op nog ’n Grand Tour, die Vuelta a España, sal wees. Hy het egter 98ste klaargemaak – 3 uur, 32 minute en 14 sekondes ná die wenner, Primoz Roglic (Jumbo-Visma).

Dit het veroorsaak dat nie baie mense Froome se aanspraak op ’n vyfde Tour-sege ernstig opgeneem het nie.

Vanjaar is hy egter by ’n nuwe span, Israel Start-Up Nation, en neem hy vandeesweek aan die UAE-toer deel. Ná Dinsdag se derde skof is die Brit algeheel in die 44ste plek. Amper 15 minute agter die voorloper, die Sloween Tadej Pogacar (UAE).

“Ek het dit beslis moeilik gevind om ’n terugkeer tot wedrenne te maak ná die winter,” het Froome volgens cyclingnews.com gesê.

Maar uit die aard van die saak het ek nog ’n ver pad om te gaan om vir wedrenne en die seisoen gereed te wees.
Chris Froome

“Ek het baie tyd (in die afseisoen) aan aspekte weg van die fiets spandeer, soos om my rehabilitasie te voltooi. Maar uit die aard van die saak het ek nog ’n ver pad om te gaan om vir wedrenne en die seisoen gereed te wees.”

Eddy Merckx in 1969 tydens die Tour de France toe hy die eerste keer gewen het. Foto: Getty Images

Tog is Froome, wat die Vuelta twee keer en nog ’n Grand Tour, die Giro d’Italia, een keer gewen het, vasbeslote om weer in Parys op die boonste trappie van die podium te staan.

Sou hy wel ’n vyfde keer wen, sal hy hom by uitgelese geselskap aansluit. Slegs vier ryers, Jacques Anquetil, Bernard Hinault (albei Frankryk), Eddy Merckx (België) en Miguel Indurain (Spanje), kon al dié prestasie vermag.

“Dit gaan ’n reuse-uitdaging wees, maar ek het vier titels en het so naby daaraan gekom om ’n rekord vyfde een te wen. Daar is niks wat my meer terughou nie,” het Froome aan The Guardian gesê.

Hy was in 2012 die naaswenner en in 2018 derde in die Tour.

“So ek sal daarvan hou om met my beste poging vorendag te kom en ’n vyfde keer te wen. Baie daarvan is sielkundig van aard, so ek hoop dat my liggaam sal saamspeel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.