Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Fury kan les leer uit Ali se stoei-fiasko
Tyson Fury moet maar duim vashou dat die sny wat hy in sy vorige boksgeveg teen Otto Wallin opgedoen het, nie Donderdagaand in sy stoeigeveg teen Braun Strowman oopgaan nie. Foto: Getty Images

Die rofstoeikryt is vol verrassings. Dit moet Tyson Fury maar weet.

Die Gypsy King is sonder twyfel ’n puik bokser, maar het dalk ’n kans gewaag toe hy besluit het om Donderdagaand in Riaad, Saoedi-Arabië, teen die Amerikaner Braun Strowman te stoei.

In die eerste plek is daar die sny bo sy een oog wat maar net onlangs toegegroei het. Fury het dié sny in sy vorige boksgeveg teen die Sweed Otto Wallin opgedoen.

Hy durf die sny nie weer laat oopgaan gedurende sy gestoeiery teen Strowman nie, anders is sy herontmoeting met die Wêreldboksraad se swaargewigkampioen, Deontay Wilder, in Februarie van die baan.

Maar Fury en Strowman sal sekerlik hul geveg mooi beplan. Dis mos hoe dit deesdae gedoen word. Fury sal egter nog steeds moet weet hoe om te val, anders kan hy maklik sy nek of sy rug breek.

Rofstoei is wel vermaak, maar dis nie maklik nie. As jy nie ordentlik kan stoei nie, lyk dit sommer net simpel.

Dit het die legendariese bokser Muhammad Ali in 1976 deeglik uitgevind.

Hierts, jou pelikaan! Muhammad Ali hardloop vir sy lewe in sy stoeigeveg in 1976 teen Antonio Inoki in Japan. Foto: Getty Images

Ali het geld nodig gehad en sy promotor, Bob Arum, het vir hom ’n stoeigeveg teen Antonio Inoki in die Boedokan-arena in Tokio, Japan, gereël.

In die weke voor die geveg het Ali twee oefengevegte teen Kenny Jay en Buddy Wolfe gehad. Hy het ook op 1 Junie 1976 ’n toernooi bygewoon, waar ene Gorilla Monsoon geveg het. Gorilla het sy teenstander uit die kryt geslinger en Ali het besluit om tot die aksie toe te tree.

Hy het sy baadjie en hemp uitgetrek en in die kryt gespring. Hy het sy skoene uitgepluk en om Gorilla begin dans. Nou en dan het hy ’n pikhoutjie uitgesteek.

Toe gryp Gorilla hom en tel hom horisontaal op sy skouers, draai ’n paar keer in die ronde en smyt Ali hard op die krytvloer neer.

Ali het toe verleë maar sy baadjie gevat en gewaai.

Antonio Inoki het later ’n politikus geword. Hy was een van die Sport-en-Vrede-Party se gewildste kandidate. Foto: Getty Images

“Hy mag dalk ’n wonderlike bokser wees, maar van stoei weet hy niks,” het Gorilla gesê.

’n Raps minder as ’n maand later is Ali toe in Tokio vir sy geveg teen Inoki.

Ali se geveg in Tokio was basies ’n Bob Arum-klugspel. Dit sou net ’n grap wees. Groot pret. Wel, toe ons daar kom het ons uitgevind niemand lag nie.
Ferdie Pacheco

“Ali se geveg in Tokio was basies ’n Bob Arum-klugspel. Dit sou net ’n grap wees. Groot pret. Wel, toe ons daar kom het ons uitgevind niemand lag nie,” onthou dr. Ferdie Pacheco, wat toe Ali se geneesheer was.

Ali was nog steeds grootmond: “Die ou kom vir my. Ek piets hom met ’n linker, bop-bop-bop. Hy sal nie naby my kom nie.”

Inoki wou niks weet van ’n vertoongeveg nie en het die ding ernstig opgeneem.

Eindelik het die twee kampe toe wel ’n paar reëls opgestel.

Ali sou met vier-ons-bokshandskoene (113 g) veg en Inoki kaalhand. Die vegters mag mekaar nie met die knieë stamp nie en geen lae houe sou geduld word nie.

Inoki het byna die hele geveg op sy rug gelê en Ali vanuit dié posisie teen die bene geskop. Foto: Getty Images

As jy skop, moet jou een knie op die krytvloer wees – en jy mag nie slaan as jy lê nie.

Toe Ali vir Inoki sien, kon hy nie sy ken miskyk nie. Dit was enorm. Die ding het daar aan Inoki se gesig gesit soos die berg Fuji.

“Haai, jou pelikaan!” het Ali sy teenstander gekoggel.

“Wees versigtig dat jy nie jou hand op my ken breek nie,” het Inoki geantwoord.

Toe die klok lui, het Inoki uit sy hoek gevlieg en Ali se bene onder hom probeer uitskop. Hy het dit nie reggekry nie, maar vir die volgende paar rondes het Inoki toe op sy rug in die kryt rondgewriemel.

Dit was bisar. Dit was soos iets uit ’n gruwelfliek. Inoki wat op sy rug rondkrioel en dan skop hy Ali vanuit dié posisie op die skene.

Ali het soos ’n verbouereerde eekhorinkie rondgeskarrel. Nou en dan het hy soos ’n springbok wat ’n krokodil gewaar in die lug gespring. Hy het gekerm en Inoki gesmeek om tog net vir ’n sekonde op te staan sodat hy net een hou kan inkry.

Naderhand het hy Inoki met mening begin terugskop.

Op ’n kol het Inoki vir Ali platgetrek. Dit was baie snaaks. Maar meestal was die geveg baie vervelig.

Nie vir Ali se helpers nie. Hulle het gesien hoe swel die boksheld se skene en hoe die bloed uit die wonde aan sy bene begin vloei het.

Eindelik het die einde van die geveg aangebreek. Die uitslag is as gelykop aangekondig. Die toeskouers het rommel in die kryt gegooi.

Hoekom het jy dit gedoen, Ali, is die bokser gevra. $6 miljoen, het hy geantwoord.

Ali is hospitaal toe. Hy het bloedklonte in sy bene gehad. Sy opkomende geveg teen Ken Norton was byna van die baan.

“Hoekom het jy dit gedoen, Ali?” is die bokser gevra.

“$6 miljoen,” het hy geantwoord.

Hy het later gespog dat hy een miljoen dollar per hou verdien het – hy het in die hele geveg net ses houe geslaan, waarmee hy Inoki net twee keer effens getref het.

Snaaks genoeg het Ali en Inoki later vriende geword. Inoki het ook ’n volksheld in Japan geword en vir ’n paar jaar was dit ’n algemene toneel om seuntjies op die speelgrond op hul rûe te sien rondkrioel en na iemand se skene te sien skop.

Kyk hier hoe mors Gorilla Monsoon met Ali: 

Kyk hier na ’n paar hoogtepunte van die geveg tussen Ali en Inoki: 

Bronne: Ali: A Life deur Jonathan Eig; The Guardian; The Bleacher Report.

Meer oor:  Tyson Fury  |  Japan  |  Vsa  |  Boks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.