Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Fury se halfbroer oefen soos Rocky

Tommy Fury, die bokskampioen Tyson Fury se halfbroer, het soos Rocky Balboa in die Rocky-flieks geoefen vir sy geveg Saterdag in Londen.

Tommy Fury, die bokskampioen Tyson Fury se halfbroer, is hierdie naweek in Londen in aksie. Foto: Getty Images

Fury (21) word deur sy pa, John, wat hom glo kwaai dryf, afgerig.

“Pappa rig my soos altyd af, hy druk my so hard as wat hy kan. Hy is baie oudmodies met Rocky-styl oefenmetodes,” het Fury hierdie week aan The Mirror gesê.

Dis onseker of dié “Rocky-styl oefenmetodes” insluit dat Fury, soos die karakter Balboa in die heel eerste Rocky-fliek, beeskarkaste moet slaan.

Dit sal Saterdag Fury se vyfde geveg in die beroepskryt wees. Hy sal in die Copper Box-arena teen ’n teenstander, wie se naam nog bekend gemaak moet word, in aksie wees.

Blykbaar is dit nie ongewoon dat onervare boksers soos Fury se teenstanders se name in Brittanje eers kort voor hul gevegte bekend gemaak word nie.

Fury, ’n ligswaargewig, het aanvanklik naam gemaak as realiteit-ster op TV se Love Island-reeks.

Met sy pa wat ’n oudbokser is en sy halfbroer Tyson en neef Hughie wat ook boks, was dit egter net ’n kwessie van tyd voordat hy ook die handskoene sou aantrek.

Hy is sover nog onoorwonne ná vier gevegte. In sy laaste geveg in November het hy Genadij Krajevski van Litaue in die tweede ronde met ’n goeie opstopper droomland toe gestuur.

Sy geveg Saterdag is ’n voorgeveg in die toernooi waarin die veergewigte Anthony Cacace en Lyon Woodstock in die hoofgeveg boks.

Jamel Herring van Amerika sou aanvanklik sy super-veergewigtitel van die Wêreldboksorganisasie (WBO) in die hoofgeveg teen Carl Frampton verdedig het.

Die Ier het egter ’n hand beseer en die geveg sal nou eers op 3 April, waarskynlik in Dubai, plaasvind.

• Joseph Parker en Junior Fa pak mekaar intussen Saterdag in Auckland om te bepaal wie Nieu-Seeland se beste swaargewig is.

Wie is Nieu-Seeland se beste swaargewigbokser? Joseph Parker (links) en Junior Fa (regs) pak mekaar hierdie naweek in Auckland om dit te bepaal. Foto: Getty Images

Hoewel albei boksers indrukwekkende rekords het, is Parker verreweg die gunsteling om te wen.

Hy is ’n voormalige WBO-kampioen en is nog net twee keer in 29 gevegte verslaan.

Die Britte Anthony Joshua en Dillian Whyte is die manne wat hom getroef het.

Fa is nog onoorwonne ná 19 gevegte, maar hy het nie teen naastenby dieselfde kaliber teenstanders as Parker geboks nie.

“Ek gaan hom uitslaan binne ses rondes,” het Parker aan The New Zealand Herald voorspel.

Meer oor:  Boks  |  Tyson Fury
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.