Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Fury, Joshua wil skerm voor Wilder-geveg
Tyson Fury wil glo graag teen sy aartsvyand Anthony Joshua skerm. Foto: Getty Images

Die Britse aartsvyande Tyson Fury en Anthony Joshua is skielik danig met mekaar en wil glo teen mekaar skerm sodat Fury met die Amerikaner Deontay Wilder kan afreken.

Joshua het aan Sky Sports News gesê hy sal Fury help om vir sy geveg in Februarie teen Wilder voor te berei.

Joshua is die Wêreldboksvereniging (WBV), Wêreldboksorganisasie (WBO), Internasionale Boksfederasie (IBF) en Internasionale Boksorganisasie (IBO) se swaargewigkampioen en Wilder die Wêreldboksraad (WBR) s’n.

“Ek dink Fury sal makliker te vinde wees vir ’n geveg teen my as Wilder, so as dit die geval is, wil ek hê Fury moet Wilder wen, want ek wil self net veg. Verbeel jou daardie geveg vind op Britse bodem plaas!” sê Joshua.

“As Tyson my nodig het, sal ek teen hom skerm om hom vir sy geveg teen Wilder gereed te kry.”

Anthony Joshua is nou weer kaatjie van die baan sedert hy sy verrassende nederlaag teen Andy Ruiz gewreek het. Foto: Getty Images

Joshua se woorde was dalk sarkasties bedoel, maar Fury – wat selde ’n kans laat verbygaan om Joshua te verkleineer – het ewe “opreg” hierop gereageer.

“Ek sal daarvan hou om jou in my kamp te hê, saam te oefen en Deontay Wilder ’n behoorlike pak slae te gee,” het Fury volgens bbc.com geantwoord.

“Ek hoop jy bedoel dit (die aanbieding om saam te skerm), want ek sal dit geniet om saam met jou te oefen. As ek met Wilder afgereken het, sal ek teen jou baklei, AJ, geen probleem.”

Joshua moet intussen besluit of hy sy titels volgende teen Oleksandr Usyk van Rusland of Kubrat Pulev van Bulgarye gaan verdedig.

Thabiso (The Rock) Mchunu boks hierdie naweek in Siberië. Foto: Gallo Images

* Die Suid-Afrikaanse junior swaargewigkampioen Thabiso Mchunu bevind hom intussen tans in Siberië, Rusland.

Mchunu boks Saterdag daar in die Ivan Yarygin-sportpaleis in Krasnojarsk teen die gedugte Denis Lebedev. Die WBR se vakante silwer-junior-swaargewigtitel sal op die spel wees.

Lebedev het nog net twee van sy 34 beroepsgevegte verloor en dit was teen Murat Gassiev en Marco Huck – albei voormalige wêreldkampioene. Lebedev is self ’n voormalige titelhouer van die WBV en die IBF.

Mchunu, wat as The Rock bekend staan, het al 21 gevegte gewen en vyf verloor. In sy enigste geveg vanjaar het hy in Pretoria in Oktober met ’n tegniese beslissing in die derde ronde teen Willbeforce Shihepo van Namibië gewen.

Meer oor:  Deontay Wilder  |  Boks  |  Tyson Fury  |  Anthony Joshua
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.