Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Geen verligting vir sportbedryf op vlak 3

Bêre die gholfstokke, die tennisrakette en die branderplanke. As jy nie ’n beroepsatleet is nie, is sport op vlak 3 van die land se inperkingsmaatreëls jou steeds nie beskore nie.

Die minister van sport, Nathi Mthethwa, het Saterdag bevestig dat slegs beroepspelers op gholfbane toegelaat sal word onder vlak 3 van die inperkingsmaatreëls. Foto: Getty Images

Dít is nou amptelik, nadat die minister van sport, Nathi Mthethwa, Saterdagoggend in ’n perskonferensie net vlak 3 se maatreëls vir professionele sport aangekondig het.

Diegene wat sport vir ontspanning beoefen – daardie mense wat basies die sportbedryf met ledegeld en deelnemersgeld befonds – mag steeds nie hul stokperdjies hervat nie.

Mthethwa het bloot herhaal wat reeds Donderdag deur die nasionale Covid-19-bevelsraad (NCCC) gepubliseer is: dat beroepsatlete in sowel nie-kontak- as kontaksporte kan terugkeer na die oefenveld en wedstryde in nie-kontaksportsoorte mag hervat, sonder toeskouers.

Vir wedstryde moet daar egter by Mthethwa toestemming gekry word.

Vir die land se professionele rugby- en sokkerspanne, asook professionele branderplankryers, was daar wel goeie nuus, met Mthethwa wat die versekering gegee het dat hulle wel mag oefen.

Ná nege weke van inperking sal hulle verheug wees om weer hul fiksheid op te skerp. Die verbod op wedstryde in hul sportkodes is nie in hierdie stadium ’n groot nekslag nie, aangesien spelers nie gereed is vir kompetisie nie.

Dieselfde geld egter ook nie-kontaksporte. Richard Glover, die uitvoerende hoof van Tennis Suid-Afrika, het Vrydag gesê al mag daar nou tenniswedstryde plaasvind, sal spelers waarskynlik in elk geval tot ses weke nodig hê om daarop voor te berei.

Vir federasies soos Tennis Suid-Afrika – wat Vrydag saam met onder meer Golf RSA, Swem Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse Gimnastiekfederasies ’n pleidooi gelewer het dat alle sport weer oopgestel word – is die enigste goeie nuus dus dat hul beroepspelers weer mag oefen.

Maar die afrigters en beamptes wat hul geld op grondvlak verdien, is steeds magteloos.

Die nege federasies se verklaring het gemeld dat sowat 3 500 mense werksaam is in gimnastiek, 40 000 in die gholfbedryf, 22 000 in swem en 6 500 in tennis.

Dit is ’n blote breukdeel van alle persone wat hul daaglikse brood in die sportbedryf verdien, en steeds nie weet wanneer hulle weer mag begin werk nie.

Meer oor:  Branderplankry  |  Koronavirus  |  Tennis  |  Gholf  |  Sport  |  Inperking  |  Saskok  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.