Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Geldstryd vir SA mans-hokkiespan
Jethro Eustice, ’n lid van die Proteas-manshokkiespan tydens ’n wedstryd teen Namibië verlede maand in Johannesburg. Foto: Anton Geyser, Gallo Images

Die Suid-Afrikaanse manshokkiespan gaan nie “so voorbereid Olimpiese Spele toe as wat hulle wil nie” omdat daar eenvoudig te min geld is vir goeie voorbereiding.

Hulle is nog nie naby die teikenbedrag wat hulle gestel het vir die Spele in Japan nie.

Die Proteas en hul afrigter, Garreth Ewing, het reeds duisende rande self betaal sodat hulle oefenkampe kan bywoon, asook die twee weke van voorbereiding wat tans in Potchefstroom gehou word.

Volgens die nasionale span behoort R2,5 miljoen genoeg te wees vir behoorlike voorbereiding.

Hulle kon sedert hul insamelingsveldtog ’n maand of twee gelede begin is sowat R350 000 insamel.

Dié geld is onder meer gebruik vir koronavirustoetse, fisioterapie, tasse vir die span se toerusting en om die kamp van twee weke te reël.

Volgens Ewing was dit ’n geraap en -skraap om almal by die oefenkamp te kry, maar die spelers hou hul doel voor oë – om Suid-Afrika by die Spele in Tokio te verteenwoordig.

“Die ouens moes self hul vliegkaartjies betaal. Ander het in hul motors of huurmotors gespring om die tog Potchefstroom toe aan te pak. Maar ons gaan selfs sukkel om ons fisioterapeut vir die week te betaal,” sê hy.

“Om eerlik te wees, ons gaan nie so voorbereid by die Spele opdaag soos wat ons wil wees nie.

“Hierdie is allesbehalwe ideale voorbereiding.

“Maar ons moet klaarkom met wat ons het. Ek dink die wedstryde teen die o.21-span was lekker mededingend en dit was goed om al die spelers byeen te hê.”

Garreth Ewing Foto: FACEBOOK

Die eerste week van die Proteas se kamp van twee weke is pas afgehandel, waartydens hulle vier wedstryde teen die Junior Proteas gespeel het.

Vandeesweek wag twee vriendskaplike wedstryde teen ’n uitnodigingspan.

“Ons is nou al by plan F of plan G wat voorbereiding betref, maar ons is dankbaar dat ons in Potch kan oefen, want hier is nie veel afleiding nie.

“Die feit dat ons hier as ’n groep is, wys die ouens wil hier wees, hoe aanpasbaar hulle is en die gewilligheid om te fokus en om klaar te kom met wat ons het.

“Dis heeltyd ’n geval van ons moet klaarkom met wat ons het.

“Daarom is ons dankbaar vir die verhouding met Matchkit (wat die span bystaan met hul veldtog om geld in te samel).

“Danksy ’n paar ekstra rand wat ons ook ingekry het, kon die span darem sekere toerusting, soos nuwe balle, aanskaf.

“ ’n Ander borg het ook splinternuwe toerusting vir die verdediging van strafhoeke geskenk.”

Volgens Ewing kry hulle egter niks “op ’n skinkbord nie”.

Dit het ook ’n groot invloed op spelers wat van Europa af terug Suid-Afrika toe moes reis om saam hier te kon voorberei.

Hulle moes op eie onkoste hierheen reis en moet ná die oefenkamp in kwarantyn gaan voordat hulle na Europa kan terugkeer.

Net die koronavirustoetse en kwarantyntydperk kos elkeen van hulle byna R40 000.

Ewing sê van die spelers sit verlof in vir twee weke voor die span se vertrek na Tokio omdat dit te veel kos om huis toe te reis.

“Ons het eenvoudig nie geld om hulle daarmee te help nie.

“Dit is moeilik om ’n amateur-sport in ’n professionele milieu te wees.”

Suid-Afrika is in dieselfde groep as Brittanje, Duitsland, Nederland, België en Kanada en begin hul veldtog op 25 Julie teen die Nederlanders.

  • Die Proteas-groep is: Tim Drummond (k), Rassie Pieterse, Austin Smith, Mohamed Mea, Matt Guise-Brown, Jethro Eustice, Nduduzo Lembethe, Taine Paton, Nicholas Spooner, Clinton Panther, Samkelo Mvimbi, Abdul Cassiem, Mustapha Cassiem, Nqobile Ntuli, Keenan Horne, Tevin Kok.
Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Koste  |  Hokkie  |  Voorbereiding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.