Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Geluk by ongeluk vir Tian ná krytdebakel

Tian Fick oorweeg dit om tog weer in die bokskryt te klim nadat sy droom om vir die Suid-Afrikaanse swaargewigtitel te veg teen die einde van verlede jaar verpletter is.

Tian Fick gaan dalk tog weer in die bokskryt gesien word. Foto: Instagram

Fick sou in Kampsbaai teen Ruann Visser baklei het toe ’n tou voor die eerste ronde gebreek en Visser by die kryt uitgeval en homself beseer het. Die geveg kon toe nie voortgaan nie.

Voor die geveg het Fick aangedui dat dit sy laaste een sou wees voordat hy en sy aanstaande vrou – hy trou binnekort – na Doebai verhuis.

Maar nou klink dit asof daar darem iets goeds uit dié teleurstelling gekom het.

“Sedert die video (van Visser wat uit die kryt val) wêreldwyd versprei het, is ek deur internasionale promotors gekontak om oorsee te boks,” sê Fick op sy Facebook-blad.

“Dit maak finansieel baie meer sin vir die tyd wat ek in boks oor het.”

Volgens Fick, wat volgende maand 36 jaar oud word, het hy met sy verloofde en ander rolspelers gesels en is daar ’n kans dat hy die uitnodiging gaan aanvaar.

Hy sou egter tog wel teen Visser wou boks, maar daar is nou praatjies dat hy eers teen Josh Pretorius moet boks, met die wenner wat dan ’n titelkans sal kry. Daarvoor is Fick nie lus nie.

Ruann Visser wys hoe lyk sy arm ’n paar dae ná sy elmboog-operasie. Foto: Facebook

“Dit (’n uitdungeveg) maak my nie nie in die minste opgewonde nie. Dit sal ’n tree terug in plaas van vorentoe wees,” sê hy.

“As ek nie vir die titel kan veg nie, sal ek my loopbaan afsluit teen ander name (buitelandse teenstanders), wat my sal toets.”

Visser se elmboog-operasie op 16 Januarie was intussen suksesvol en hy is stadig besig om weer te begin oefen.

Sy pa en bestuurder, Nefdt, het vroeër gesê Visser is van plan om sy SA titel in die eerste kwart van die jaar te verdedig teen wie ook al die eerste aanspraakmaker op sy titel is.

Hy hoop om daarná in Amerika teen ’n hoogaangeskrewe buitelandse teenstander te staan te kom.

Visser sou op 7 Maart in New York teen Efe Ajagba van Nigerië geboks het as hy nie ’n operasie moes ondergaan het nie.

Boks Suid-Afrika moet intussen nog sy verslag oor sy ondersoek na die ongelukkige voorval in Kampsbaai bekend maak.

Meer oor:  Boks  |  Ruann Visser  |  Tian Fick
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.