Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Geraint wys dat hy in Tour kan spiere bult

Om meer as een rede was die Britse fietsryer Geraint Thomas, wat Tour de France in 2018 gewen het, se sege die afgelope naweek in Switserland van kritieke belang.

Geraint Thomas op die podium Sondag in Fribourg, Switserland. Foto: Getty Images

Toe Thomas Sondag op die boonste trappie van die podium by die Tour de Romandie staan, was dit nie net sy eerste sege sedert sy glorie in 2018 nie, hy het ook gewys dat ’n tweede Tour de France-kroon wéér binne sy bereik is.

Nie dat Thomas, wat later vandeesmaand sy 35ste verjaardag vier, noodwendig die vrotsige peil gehad het sedert hy die Tour gewen het – hy was immers die naaswenner in 2019. Tog is hy in 2020 deur sy span, die Ineos Grenadiers, oor die hoof gesien vir die wêreld se prestigerykste wedren.

In September verlede jaar was hy die naaswenner in die Tirreno-Adriatico in Italië, maar moes hom kort daarna aan die Giro d’Italia onttrek toe hy in die derde skof geval het.

Vanjaar was sy beste vertoning voor die naweek die derde plek wat hy in Maart by die Volta Ciclista a Catalunya-wedren in Spanje behaal het.

Dat die sege op ’n goeie tyd vir Thomas gekom het, kan nie betwyfel word nie. Saterdag, in die voorlaaste skof, het hy kort voor die eindstreep geval, hoewel hy steeds daarin kon slaag om die skof in die derde plek klaar te maak.

Geraint Thomas se peil is goeie nuus vir diegene wat uitsien na ’n mededingende Tour de France later vanjaar. Foto: Getty Images

Dit het hom 11 sekondes agter die Kanadees Michael Woods (Israel Start-Up Nation) geplaas voor die aanvang van die laaste skof.

Die vyfde en laaste skof, ’n individuele tydtoets oor 16,19 km, wat Sondag in Fribourg, Switserland, beslis is, het Thomas in die derde plek voltooi. Dít was genoeg om hom van die algehele titel te verseker.

“Sover is dit ’n goeie jaar, met elke wedren voel ek beter en beter,” het Thomas volgens cyclingnews.com gesê.

“Al wat ek kan doen, is om te fokus op dit waarmee ek besig is en probeer om te verbeter en seker te maak dat my peil die beste moontlik is teen die tyd dat die Tour begin.”

Thomas se goeie trapwerk sal goeie nuus wees vir diegene wat uitsien na ’n mededingende Tour, wat vanjaar op 26 Junie begin.

Die Sloween Tadej Pogacar (UAE), 2020 se Tour-kampioen, is self vanjaar goed op dreef, terwyl sy landgenoot Primoz Roglic (Jumbo-Visma), wat verlede jaar tweede was, ook vanjaar behoorlik die speke laat sing.

En Chris Froome (Israel Start-Up Nation), die Brit wat sy terugkeer ná ’n besering maak en hoop om die Tour ’n vyfde keer te wen?

Hy het die naweek algeheel 96ste uit 120 ryers klaargemaak. ’n Volle 1 uur en 11 sekondes ná Thomas.

Froome het in ’n onderhoud ná afloop van die laaste skof aan CyclingPro gesê dat dit ’n “moeilike” week was. Op die video is hy hoeserig en noem hy dat hy borsprobleme ervaar.


Meer oor:  Geraint Thomas  |  Chris Froome  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.