Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Gewese boksheld Whitaker sterf

Bekende oudboksers het hulde gebring aan Pernell Whitaker, ’n Amerikaner wat wêreldtitels in vier gewigsafdelings gewen het, nadat hy Sondag in die ouderdom van 55 jaar dood is.

Die voormalige bokskampioen Pernell Whitaker soos hy ’n paar jare gelede gelyk het. Foto: Getty Images

Whitaker het gesterf nadat ’n motor hom in Virginia Beach in die Amerikaanse deelstaat Virginië omgery het.

Die voormalige swaargewigwêreldkampioen George Foreman het volgens Time gesê Whitaker het hom aan ’n “kat met bokshandskoene” laat dink toe hy hom die eerste keer in aksie gesien het.

Volgens ’n ander bokslegende Oscar de la Hoya was dit vir hom “’n eer” om in 1997 die kryt saam met Whitaker te deel.

De La Hoya het hul geveg met punte gewen. In daardie stadium was Whitaker al naby die einde van sy roemryke loopbaan.

Whitaker het wêreldtitels in die afdelings vir liggewigte, ligweltergewigte, weltergewigte en lig-middelgewigte gewen.

Van sy grootste oorwinnings was oor topvegters soos Azumah Nelson en Buddy McGirt.

Hy sal ook altyd onthou word vir sy kragmeting in 1987 met Roger Mayweather.

Dit was ’n brutale geveg waarin Whitaker vir Mayweather vroeg-vroeg ’n paar keer platgeslaan het.

Mayweather het voortgeveg en het ook vir Whitaker ’n slag platgeslaan. Terwyl Whitaker op die planke was, het Mayweather hom nog ’n hou gegee.

Gedurende die geveg het Whitaker ook ’n keer per ongeluk die skeidsregter raak geslaan.

Hy het ook gedurende ’n gevashouery daarin geslaag om Mayweather se broek effens af te trek.

Toe Mayweather sy broek probeer optrek, het Whitaker onmiddellik tot die aanval oorgegaan.

In sy later jare het Whitaker probleme met die gereg opgedoen weens sy dwelmgebruik.

Hy moes in 2003 selfs ’n tyd lank tronkstraf uitdien daarvoor.

* Whitaker sou Saterdag, voor Manny Pacquiao se geveg teen Leith Thurman in Las Vegas se MGM Grand-arena, ’n spesiale eerbewys vir sy boksprestasies ontvang het.

Meer oor:  Boks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.