Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
‘Giant King’ het nie meer ’n trurat nie
Ruann Visser draf na ’n neutrale hoek toe nadat hy Justice Siliga Sondag in Pretoria uitgeslaan het. Foto: Gallo Images

Ruann Visser kan dalk binnekort die kans kry om wraak te neem vir die nederlaag wat hy in Februarie teen Elvis Moyo gely het.

Moyo was Sondag in die Sun Arena Times Square in Pretoria waar Visser sy Suid-Afrikaanse swaargewigtitel suksesvol verdedig het deur Justice Siliga in die eerste ronde uit te slaan.

Die Zimbabwiër het tydens die onderhoude ná die geveg in die kryt geklim en ’n uitdaging aan Visser gerig.

Visser het heel gewillig gelyk om weer teen Moyo, wat hom laas met punte geklop het, te boks.

Visser se Afrika-boksunie-titel kan dan op die spel wees.

Justice Siliga het gesukkel om op te staan nadat Ruann Visser hom platgeslaan het. Foto: Gallo Images

Daar is egter ook ’n kans dat The Giant King, soos Visser bekend staan, eers vir ’n paar maande in Las Vegas gaan boks en baklei.

Die reus (2,07 m) het Siliga (1,92 m) heeltemal oorweldig. Dit was ’n ander Visser dié.

Waar hy in die verlede nog lomp-lomp soos ’n ysbeer agteruit beweeg het, het hy dié keer net een pad geken en dit was vorentoe.

Hy was van die begin af die aggressor en het Siliga met lang, reguit houe agteruit gedwing.

Visser slaan duidelik bedrieglik hard. Sy houe val nie soos Deontay Wilder se donderweer nie, maar dit skud sy teenstanders wanneer dit tref.

Ruann Visser het met meer aggressie as in van sy vorige gevegte teen Justice Siliga baklei. Foto: Gallo Images

Die links-regs-kombinasie waarmee hy Siliga platgeslaan het, was nie eens voltreffers nie.

Daarvoor moet Siliga dankbaar wees. Hy het ’n hele tydjie lank op die krytvloer gelê en probeer bykom.

Die uitdager was erg teleurgesteld oor sy nederlaag en dit het ook gelyk of hy later in sy hoek gesit en huil het.

“Ek gaan van nou af net vorentoe, nie agtertoe nie,” het Visser gesê. “Ek is van nou af daarop uit om my lengte en my krag beter te benut.”

Hy is die afgelope tyd deur die veteraan-afrigter Steve Kalakoda afgerig.

Kalakoda het gesê hy het dit by Visser tuisgebring dat hy moet onthou dat “een hou ’n groot verskil” in die swaargewig-afdeling maak.

In een van die voorgevegte het Vlad Sirenko van die Oekraïne die uitgeslape Denis Bakhtov van Rusland met ’n tegniese uitklophou in die sewende ronde verslaan.

Bakhtov kon weens snye bo sy oë en op die brug van sy neus nie voortbaklei nie.

Wel, die strydros wou graag verder veg, maar die skeidsregter wou hom nie toelaat nie.

* Die Wêreldboksorganisasie het intussen besluit dat die wenner van die herontmoeting tussen Andy Ruiz en Anthony Joshua sy titel teen Oleksandr Usyk moet verdedig.

Meer oor:  Boks  |  Ruann Visser
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.