Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Nagmerrie in Kampsbaai kos Giant King
Ruann Visser, die Giant King. Foto: Verskaf

Die arme Ruann Visser. Eers beleef hy ’n Suid-Afrikaanse nagmerrie en toe wag daar vir hom ’n Nigeriese nagmerrie.

Maar as gevolg van sy Suid-Afrikaanse nagmerrie sal die Nigeriese nagmerrie vir eers in die agtergrond bly sluimer.

Visser, ook bekend as The Giant King, sou sy Suid-Afrikaanse swaargewigtitel in Desember teen Tian Fick in Kampsbaai verdedig het.

Een van die kryt se toue het kort voor die geveg gebreek, Visser het uitgeval en sy elmboog beseer en die geveg kon nie voortgaan nie.

Boks Suid-Afrika is steeds met sy ondersoek besig en Visser het intussen ’n paar dae gelede ’n elmboog-operasie ondergaan.

Efe Ajagba, die Nigeriër teen wie Ruann Visser in April sou geboks het. Foto: Getty Images

“Hierdie volgende paar maande was veronderstel om baie opwindend vir Ruann te gewees het,” sê Nefdt Visser, die bokser se pa en bestuurder.

“Ruann sou teen die einde van die maand by Deontay Wilder se kamp aangemeld het om hom te help met sy skerm-oefeninge vir sy geveg teen Tyson Fury.”

Wilder verdedig sy swaargewigtitel van die Wêreldboksraad (WBR) op 22 Februarie teen Fury in Las Vegas.

“Ruann sou ook op 7 Maart in New York teen die hoogaangeskrewe Efe Ajagba van Nigerië geboks het, maar dié geveg is nou vir eers van die baan.”

Ajagba, wat ook as die Nigeriese Nagmerrie bekend staan, is nog onoorwonne ná 12 gevegte, waarvan hy 10 met uitklophoue gewen het.

Volgens Nefdt het sy seun voor sy voorgenome geveg teen Fick probleme met sy linker-elmboog gehad.

Die val uit die kryt het die besering heelwat vererger. Die Giant King herstel goed ná die operasie, maar sal eers oor ’n paar weke ordentlik kan begin oefen.

“Ons hoop dat Ruann in April weer in aksie sal kan wees. Die plan is dat hy dán sy SA titel in Johannesburg sal verdedig,” sê Nefdt.

“As Fick nog op die toneel is, sal dit teen hom wees, anders sal dit teen die eerste aanspraakmaker op die titel wees.”

Hy hoop steeds dat sy seun daarna in New York in aksie sal wees.

PBC Promotions, wat deur Al Hayman besit word, slaan die Giant King hoog aan en wil hom graag iewers vorentoe in een van hul toernooie laat boks.

Meer oor:  Boks  |  Ruann Visser
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.