Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Gideon het SA spele gekos, getuig Reddy

Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese komitee (Saskok) se afgedankte uitvoerende hoof, Tubby Reddy, sê die organisasie se vise-president, Barry Hendricks, het verlede week aangebied om alle interne én kriminele klagte teen hom te laat vaar as hy ’n skikkingsbedrag aanvaar.

Hendricks het dit ten sterkste ontken.

In gelukkiger dae . . . Die Saskok-president Gideon Sam (links) en afgedankte uitvoerende hoof, Tubby Reddy, op ’n nuuskonferensie in 2015. Foto: Gallo Images

Reddy, wat in Januarie ná ’n eksterne tugproses teen hom afgedank is, het Donderdag verskyn voor die ministeriële komitee wat Saskok ondersoek. Hy het al die klagte teen hom ontken en gesê hy was nie vroeg in Desember 2017 by sy tugverhoor om sy afdanking te probeer verhoed nie omdat hy ernstige rugprobleme gehad het en deur ’n dokter aangesê is om in die bed te bly.

Hy is in die tugproses skuldig bevind op twee klagte van seksuele teistering, talle klagte van korrupsie en oneerlikheid, dat hy Saskok se gedragskode oortree het en die organisasie se reputasie geknou het.

Reddy het die klagte van seksuele teistering Donderdag ontken met die teenargument dat die klaagster vir jare ná die tyd waarin sy beweer dit gebeur het, gereeld “alleen” na sy huis gegaan het en vriendelike boodskappe aan hom gestuur het.

Hy het gesê daar was geen korrupte verhouding tussen hom en Don Chen (die middelman tussen Saskok en die kleremaatskappy 361°) nie en volgehou dat hy die prooi van ’n georkestreerde veldtog deur die Saskok-president, Gideon Sam, en ander Saskok-raadslede is.

Reddy het gesê die verhouding tussen hom en Sam het in die aanloop tot die presidentsverkiesing van 2016 versuur, omdat Sam in sy opinie enigiets sou doen om herverkies te word.

Volgens hom is die organisasie se grondwet in die verkiesing oortree omdat individue wat nie aan nasionale federasies behoort het nie op Sam se aandrang toegelaat is om te staan. Reddy beskou die raad as onwettig en sê dit moet ontbind word sodat ’n nuwe verkiesing gehou kan word.

Reddy het verder aan die komitee gesê Suid-Afrika het die reg om die Statebondspele van 2022 aan te bied verloor omdat Sam as voorsitter van ’n maatskappy met die naam Nation of Champions voordeel sou trek uit die Spele, en die regering dus nie bereid was om waarborge te verskaf nie. Nation of Champions is volgens hom op die been gebring om 30 000 vrywilligers vir die Spele op te lei.

Reddy het sy stem gevoeg by die koor van mense wat sê besteding by Saskok was buite beheer.

Hy het aan die komitee gesê al 14 raadslede het in 2015 in die eerste klas na Nieu-Seeland gevlieg vir die aankondiging van 2022 se Statebondspele-gasheer en dat al 14 raadslede geregtig was om na 2016 se Olimpiese of Paralimpiese Spele te gaan en ’n dagtoelaag van $200 elk te eis.

Hulle was ook geregtig op ’n ete-toelaag van $100 per dag, maar ná van hulle gekla het dis te min, is nog $100 vir hulle en in sommige gevalle hul gades bygevoeg.
Tubby Reddy

“Hulle was ook geregtig op ’n ete-toelaag van $100 per dag, maar ná van hulle gekla het dis te min, is nog $100 vir hulle en in sommige gevalle hul gades bygevoeg,” het Reddy getuig.

Later het een van die komiteelede, dr Ali Bacher, Reddy daarop gewys dat hy self op die soustrein was, met voorbeelde van vier geleenthede wat hy in die eerste klas gevlieg het. Twee maal was sy voormalige sekretaresse, Monique Tarr, saam met hom.

Reddy het verduidelik dat hy én Tarr volgens Saskok se beleidsdokument geregtig was op vlugte in die besigheidsklas en net eersteklas gevlieg het as hulle deur die lugredery opgegradeer is.

’n Ander komiteelid, Shamima Gaibie, het Reddy beskuldig van korrupsie omdat hy die berugte SS Griffin-verslag aan die minister gestuur het sonder om te meld dat die grootste deel daarvan deur hom geskryf is.

Volgens die dekbrief daarvan is die verslag van 218 bladsye opgestel deur SS Griffin, ’n sekuriteitsmaatskappy wat meeluisterapparate in Saskok-huis moes soek. Net bll. 12 tot 24 handel egter daaroor.

Reddy het toegegee dat hy “gefouteer het”.

  • Hendricks het Donderdag aan Netwerk24 gesê dit is ’n “blatante leuen” dat hy verlede week, tydens ’n vergadering by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), ’n skikking met Reddy probeer bewerkstellig het.

“Eerstens is die KBVA-proses nog nie aan die gang nie – ons het verlede week ’n versoeningsvergadering gehad waar hy, Vinesh Maharaj en Jean Kelly (wat saam met hom afgedank is) hul eise op die tafel kon sit. Hy wil ’n arbitrasieproses hê en hulle wil skik,” het Hendricks gesê.

“Ek kan niks uit my eie aanbied nie, die raad moet besluit. Hy het nou 90 dae om aansoek te doen vir arbitrasie.”

Meer oor:  Tubby Reddy  |  Saskok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.