Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Giniel skuif op, maar Sainz te ver voor

Nasser Al-Attiyah, die verdedigende kampioen, se hoop op ’n moontlike tweede Dakar-oorwinning is besig om spoed te verloor nadat hy Woensdag erg verdwaal het.

Dié renjaer van Toyota Gazoo het in die tiende van die byeenkoms se 12 sneltrajekte heelwat tyd verloor.

Toyota Gazoo Racing se Nasser Al-Attiyah en Matthieu Baumel Woensdag tydens die tiende skof van die Dakar-ren.Foto: Reuters

Die Spanjaard Carlos Sainz (Mini) het die skof in twee uur drie minute 43 sekondes gewen terwyl Al-Attiyah 17de geëindig het.

Die verskil tussen dié twee, wat die vorige dag net 24 sekondes was, is nou ’n bykans onoorkombare 18 minute en tien sekondes.

Die Fransman Stéphane Peterhansel (Mini), wat Dinsdag se sneltrajek gewen het, was Woensdag tiende, maar is algeheel net 16 sekondes agter Al-Attiyah.

Meer as die helfte van die lang sneltrajek van Harad na Sjoebeita het uit sand en duine bestaan, maar die feit dat Al-Attiyah verdwaal het, het hom van sy kans ontneem om die vierwielaandrywing van sy Toyota Hilux tot sy voordeel te benut.

Jakub Przygonski van Pole (Mini 4x4) was die naaswenner, terwyl die Suid-Afrikaner Giniel de Villiers derde was, net vier minute 26 sekondes agter Sainz.

De Villiers se Nederlandse spanmaat Bernhard ten Brinke was sesde in ’n identiese Hilux. Hul spanmaat Fernando Alonso het vroeg meer as ’n uur verloor nadat hy sy motor oor ’n duin gerol het. Hy was uiteindelik heel laaste in die 55ste plek nadat hy die res van die roete sonder ’n voorruit gejaag het, en het nou tot 14de algeheel teruggesak nadat hy die vorige dag tiende was.

Fernando Alonso se Toyota het Woensdag gerol en hy het sy voorruit verloor. Foto: AP

Die Suid-Afrikaanse Nissan Navara-jaers Hennie de Klerk en Johann Smalberger van Pretoria het nié verdwaal of met iets anders gesukkel nie en in ’n skitterende 22ste plek oor die wenstreep gejaag. Hulle is nou 29ste algeheel.

Die afdeling vir motorfietse is vroeër deur Joan Barreda (Honda) gewen terwyl sy spanmaat Ricky Brabec, wat steeds los voor is en nou ’n voorsprong van 25 min. 44 sek. het, tweede was.

Die voormalige SA veldrenkampioen Ross Branch (KTM) van Botswana was Woensdag agtste en is nou 22ste algeheel.

Die Suid-Afrikaanse vrouejaer Kirsten Landman was Woensdag 44ste terwyl haar landgenoot Taye Perry 67ste oor die wenstreep is. Perry is egter steeds 50ste algeheel en Landman 56ste. Hul manlike KTM-medejaer Stuart Gregory was Woensdag 52ste en is nou 65ste algeheel – sy beste posisie tot dusver in vanjaar se ren.

* Die tweede helfte van die marathon-sneltrajek waar die koring gewoonlik van die kaf geskei word, word Donderdag terug na Harad aangedurf sonder dat die deelnemers hul tegnici byderhand het om hulle met instandhoudings- en herstelwerk te help.

Dié deel van die roete dien as die voorlaaste sneltrajek en bestaan uit ’n sneltrajekgedeelte van 379 km, maar ’n bykomende 365 km se ooppadgedeelte voltooi die res van die skof.

Die wedren eindig Vrydag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.