Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Proteas: ‘Glo, glo, glo en dis moontlik’

Die vreugdevure brand hoog oor die Proteas se sukses tot dusver in die Wêreldbeker-netbaltoernooi en die optimisme is hoog vir Saterdag se halfeindstryd teen Australië.

Eenheid maak mag. Die Proteas tydens Donderdag se Wêreldbeker-netbalwedstryd teen Engeland. Foto: Gallo Images | Reg Caldecott
Erin Burger strek om die bal te vang. Foto: Getty Images
Laat die hare waai! Izette Griesel in aksie teen Engeland. Foto: Gallo Images | Reg Caldecott

Annelie Lucas, afrigter van die Southern Stings, is in Liverpool en sê die opwinding loop hoog.

“Ek is ongelooflik trots op ons spelers en hoe ver hulle gekom het.

“My hart as Suid-Afrikaner wil glo dat ons dit kan doen en ’n medalje huis toe kan bring,” sê Lucas.

Wêreldbeker-netbal se gelukbringer, Jude. Foto: Getty Images

“Die realis in my sê ons speel teen die wêreld se nr. 1 wat netbal in hul land as ’n beroepsport beoefen. Die speelveld is dus nie gelyk nie en hulle het die voordeel.

“Ons sal beslis hoër as vyfde eindig. Die span om te klop is Engeland. Met ’n volgepakte saal gaan hulle moeilik geklop word,” sê Lucas.

Engeland en Nieu-Seeland speel Saterdag die tweede halfeindstryd om die eindstryd te haal.

Die nederlaag teen Engeland neem nie weg dit wat die Proteas reeds vermag het nie, sê Zanele Mdodana, die afrigter van die Maties.

“Hulle weet wat is op die spel. Hulle moet alles wat hulle het gee om in die eindstryd te kan speel. En as dit beteken hulle moet die voorste span in die wêreld klop, moet hulle dit doen.”

Mdodana sê die Proteas is in goeie hande met Norma Plummer wat presies weet hoe die Aussies speel.

Die Paarliete Bennie Saayman en Annelie Lucas ondersteun die Proteas langs die baan in Liverpool. Foto: Verskaf

“Hulle het goeie dissipline gewys en dit was duidelik dat hulle by die wedstrydplan gehou het,” sê Mdodana.

“Hulle gaan Australië klop as hulle klinies is en ’n onwrikbare selfgeloof het dat hulle waardig is om in die eindstryd te speel.”

Jenny van Dyk, afrigter van die Jaguars en Tuks, is ook ’n toeskouer en sê sy is super opgewonde.

“Om die beste te wees moet ons die beste kan klop. Die volgende twee wedstryde gaan brutaal wees, maar dit is niks wat die span nié kan oorkom nie.

“Ons sien baie uit na die wedstryd en ons weet hulle kan die beste spanne die stryd aansê, want hulle het dit al gedoen.

“Ons gaan ons longe uitskreeu en die vlae swaai,” sê Van Dyk.

TV-tye: 12:15: SA t. Australië (SS 10).

16:00: Engeland t. Nieu-Seeland (SS 10)

Riana Bezuidenhout en Jenny van Dyk van Tuks buite die M&S Bank Arena. Foto: Verskaf

Meer oor:  Liverpool  |  Wêreldbekernetbaltoernooi  |  Proteas  |  Australië  |  Netbal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.