Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Goue dag vir SA by Afrikaspele in Marokko

Suid-Afrika se kanovaarders het Donderdag hul buurlande deeglik ore aan gesit op die Afrikaspele.

Die 26 jarige Esti van Tonder was op haar stukke om podium-glorie te behaal toe sy in die K1-afdeling se 500 m-resies by die Mohammed Ben Abdellah Dam net buite Rabat, Marokko, bo die res uitgetroon het.

Bridgitte Hartley was in 2012 by die Olimpiese Spele in Londen ook een van die uitblinkers met ’n bronsmedalje. Foto: Getty Images

Van Tonder het net 1 minuut, 55.945 sekondes benodig om die wenstreep verby te steek vir haar goue medalje. Haar naaste teenstander die Tunisiër, Khaoula Sassi, was byna 10 sekondes agter haar in 2:05.932.

Die Suid-Afrikaner was boonop ook die beste in die uitdunne toe sy in 2:13.582 haar plek in die eindronde bespreek het.

Maar dit was nie al vreugde vir die suidpunt van Afrika nie.

Die tweetal van die ervare Bridgitte Hartley en Donna Hutton het saamgespan om in die K2-afdeling se 500 m ook onder hul teenstanders uit te vaar en gemaklik goud te wen in 1:54.279.

Hier moes die Tunisiërs weer eens die spit afbyt met die tweetal van Sassi en Afef Ben Ismail wat in 2:01.458 klaargemaak het vir die silwermedalje.

Van Tonder, Hartley en Hutton het boonop dubbele glorie ervaar toe hulle saam met Nosipho Mthembu die K4-afdeling se 500 m-resies gewen het.

Die mans het ook nie teleurgestel nie en die viertal van Chrisjan Coetzee, Jarryd Gibson, Louis Hattingh en Sifiso Masina het boonop met die louere weggestap in die mans se eweknie.

In die atletiek het die twee diskusgooiers Yolandi Stander en Ischke Senekal uitgeblink en twee plekke op die podium opgeraap.

Stander se vyfde poging van 57,75 m het die tweede plek en silwermedalje aan haar besorg, terwyl Senekal met haar heel laaste poging van die vyfde plek na die derde gebokspring het om brons te wen met 53,95 m.

Lynique Beneke het brons verower in die verspring met ’n afstand van 6,30 m.

Die Statebond-bronsmedaljewenner Wenda Nel en die o.20-wêreldkampioen, Zenéy van der Walt, het albei sonder om enigsins te sweet deur die uitdunne van die 400 m-hekkies gekom.

Nel was in 57.85 sek. eerste in haar uitdun, terwyl Van der Walt in 58.15 sek. tweede in die ander uitdun was.

Anaso Jobodwana sal Vrydag in die eindronde van die 200 m in die blokke sak nadat hy in die halfeind tweede was in 20.82 sek.

Tamzin Thomas het in die 200 m-halfeind uitgeval nadat sy vyfde klaargemaak het in haar wedloop in 24.07 sek.

Thomas het vroeër Donderdag net-net genoeg in die tenk gehad om deur die uitdunne te kom toe sy as een van die vinnigste verloorders gekwalifiseer het in 23.89 sek.

Lindsay Hanekom was vyfde in die eindronde van die 400 m-hekkies in 49.98. Die goue medalje is deur Algerië se Abdelmalik Lahoulou in 49.08 verower.

Meer oor:  Atletiek  |  Afrikaspele  |  Roei  |  Bridgitte Hartley
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.