Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Groentjie van die Jaar-prys wink vir Binder

Maak nie saak wat Sondag by die laaste ren van die jaar gebeur nie – daar is ’n groot, reënboogkleurige vingerafdruk op vanjaar se MotoGP-kalender.

Brad Binder

Dit behoort aan Brad Binder, ons eie boerboel in motorfietsrenne se bloulint-klas, wat vanjaar telkens van agter af sy pad oopbaklei het tot in ’n skaflike posisie. In die Tsjeggiese Republiek was dit selfs tot op die boonste trappie van die rostrum.

Binder (Red Bull KTM) spring Sondag in Portugal in die 13de plek weg, iets waaraan hy deur die jaar gewoond geraak het. Hy het Saterdag tydens kwalifisering alles uitgehaal en die ander jaers kort-kort laat skrik, maar hy sal weer sy pad uit die middelveld moet oopbaklei tot daar waar die kampioenskapspunte dikker gesaai lê.

Hy gaan waarskynlik wel Sondag as die Groentjie van die Jaar gekroon word.

Binder tree in die laaste ren van die seisoen aan met 87 punte, ’n volle 20 meer as sy naaste teenstander, Alex Marquez (Repsol Honda). Vir Marquez om Binder van dié gesogte titel te beroof, moet die Suid-Afrikaner nie klaarmaak nie én Marquez moet minstens tweede eindig. Dit is so onwaarskynlik soos ’n Zuma-skulderkenning.

Binder se posisie (tans 11de op die puntelys uit 22 jaers) is ’n ongelooflike prestasie vir ’n nuweling en die lof wat hom toegeswaai word, is welverdiend.

In die 13 renne tot dusver, het hy drie keer onder die top-vyf geëindig en nog twee keer in die top-tien. As hy nie in drie renne geval het nie, sou sy puntetotaal stellig baie beter gewees het.

Binder en sy Moto3-kleinboet, Darryn, kan later vandeesweek sekerlik ’n helde-ontvangs te wagte wees wanneer hulle vir die eerste keer in maande weer terugkom huis toe. Boonop met ’n paar trofeë elk in die hand.

Van nuwe gesigte gepraat: ’n Paar nuwe helde het hul name vanjaar onder aanhangers gevestig in die afwesigheid van verlede jaar se kampioen, Marc Marquez.

Verlede week se wenner in Valencia, Spanje, is beslis een van hulle. Franco Morbidelli (Petronas Yamaha), wat Sondag tweede wegspring, het sy kleim teen alle verwagtinge in afgesteek as die voorste Yamaha-jaer van die jaar. Van die res van die Yamaha-jaers (Fabio Quartararo, Maverick Viñales en Valentino Rossi) se drome (en aannames) het nie veel gekom nie. En om sout in hul wonde te vryf, is Morbidelli die enigste Yamaha-jaer wat met ’n 2019-motorfiets jaag.

Van “B-spanne” gepraat – die hele voorste ry op die wegspringrooster bestaan uit jaers wat nie vir fabriekspanne jaag nie.

Miguel Oliviera (Tech3 KTM) spring voor weg, met Jack Miller (Pramac Ducati) in die derde plek. Dit is Oliviera se eerste voorste wegspringplek en boonop op sy tuisbaan.

Suzuki se nuutgekroonde kampioen, Joan Mir, spring slegs 20ste weg.

Maar dit behoort ons nie te verras nie. 2020 het soveel jakkalsdraaie gegooi dat niks meer vreemd is nie. Die een ding wat ons wel daarvan sal onthou, is dat die jaar vir ons ’n nuwe plaaslike motorfietsheld gebring het.

Meer oor:  Motogp  |  Brad Binder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.