Terwyl die Suid-Afrikaanse Hokkievereniging wag op toestemming van die regering om sy hoëprestasie-groepe weer te laat terugkeer na die oefenveld, was enkele Suid-Afrikaners in aksie toe dié sport die naweek in Wes-Australië hervat is.

Liné Malan, ’n voormalige Protea, speel klubhokkie in Wes-Australië. Foto: Gallo Images
Die state se toernooi in Australië is vanweë die Covid-19-pandemie gekanselleer, maar hulle gaan nou ’n volle klubseisoen daar inpas, sê Liné Malan, ’n voormalige Protea-speler, uit Perth.
Sy speel vir Hale, wat die Wasps Vrydag met die begin van die Premierliga met 3-2 geklop het.
Tarryn Bright en Sammy Prost is van die ander Suid-Afrikaners wat in dié liga betrokke is. Hulle speel vir die Lions, wat afgerig word deur Lindsey Wright, voormalige Suid-Afrikaanse kaptein en afrigter.
Malan sê Wes-Australië het min gevalle van die koronavirussiekte en dat hul maatreëls al die naweek vir die wedstryde verslap is.
“Ons het Vrydagaand nog beperkings gehad – net 300 mense is in die stadion toegelaat.
“Die spelers het aangewese plekke gehad om in op te warm. Aan die einde van die wedstryde slaan ons stokke in plaas daarvan om hand te skud met ons teenstanders,” sê die voormalige Vrystaat-kaptein.
Sy sê Saterdag was hulle reëls verslap. Die volle kapasiteit van die stadion mag nou benut word, sonder enige beperking op toeskouers.
“Alles is nou weer normaal buiten dat ons nog nie mag reis nie.
“Alles is nogal goed hier in Perth, ons grense is gesluit vir die res van die land. Niemand mag in of uit Wes-Australië gaan nie.
“Ons het die afgelope maand geen nuwe gevalle gehad nie en het net twee aktiewe gevalle.”
Die Suid-Afrikaanse Hokkievereniging het Vrydag sy protokolplanne ingedien soos deur die Staatskoerant vereis.
Die minister van sport moet nou die terugkeer na die speelveld goedkeur voordat enige geriewe gebruik kan word. Dit sal in fases geskied en is beperk tot hoëprestasie-groepe.