Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Groot bederf vir boks-aanhangers

Kevin Lerena is hierdie naweek op die drumpel van groter dinge wanneer hy in Kempton Park teen Artur Mann van Duitsland boks en in Texas pak twee van die gewildste boksers ter wêreld mekaar ook.

Artur Mann het ’n lekker patat van ’n neus. Dit behoort ’n goeie teiken vir Kevin Lerena te wees. Foto: Gallo Images

Lerena verdedig sy junior-swaargewigtitel van die Internasionale Boksorganisasie (IBO) teen Mann by Emperors Palace.

Mann is onoorwonne ná 15 gevegte, hoewel dit lyk asof hy almal verloor het as jy na sy neus kyk. Dis ’n groot patat daardie en dit lyk asof dit met ’n reuse skroefsleutel platgeslaan is.

Rodney Berman, die promotor van die geveg, sê daar kan binnekort groot skuiwe in die junior-swaargewig-afdeling verwag word aangesien die onbetwisbare groot kokkedoor, Oleksandr Usyk, na die swaargewig-afdeling gaan opskuif.

Dit is dus belangrik dat Lerena, wat weens ’n skouer-operasie lank laas in aksie was, met Mann moet afreken.

“Ek dink nie eens aan Usyk nie. Ek word elke oggend wakker met Artur Mann in my gedagtes,” het Lerena vandeesweek gesê.

In Arlington, Texas, is daar ook twee vegters wat al weke lank aan mekaar dink, naamlik Errol Spence en Mikey Garcia.

Dié twee supersterre is ná weke se mediaverpligtinge al goed keelvol vir mekaar. Spence, wat gewoonlik baie ordentlik is, het hierdie week so ’n bietjie na Garcia begin hap toe laasgenoemde weer vertel het hoe “spesiaal” hy is.

“My teenstanders sien nooit iets spesiaals in my totdat hulle saam met my in die kryt is nie,” het Garcia gesê.

Errol Spence (links) en Mikey Garcia (regs) pak mekaar hierdie naweek in Arlington, Texas. Foto: Getty Images

Dit het Spence ligweg geïrriteer, maar die feit is – Garcia is inderdaad ’n baie spesiale bokser. In sy laaste twee gevegte het hy met onoorwonne kampioene in twee verskillende gewigsafdelings afgereken. Nou mik hy selfs na ’n swaarder gewig en ’n beter teenstander.

Daar is kritici wat dink Garcia, wat ál 39 sy gevegte sover gewen het, het hierdie keer te veel gewaag. Spence, onoorwonne ná 24 gevegte, is nie net nog ’n vegter nie.

Die Internasionale Boksfederasie se weltergewigkampioen beskik oor uitsonderlike vernuf en hy slaan boonop baie, baie hard. Net drie van sy gevegte het die volle getal rondes geduur.

Hy kan dalk net te sterk vir die ambisieuse Garcia wees.

Meer oor:  Boks  |  Kevin Lerena
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.