Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Groot geld beloof vir wen-Proteas

Suid-Afrika kan Sondagaand vir die eerste keer netbal-miljoenêrs hê.

Dit is nou as die nasionale span daarin slaag om die Wêreldbeker-toernooi in Liverpool, Engeland, te wen.

Karla Pretorius (SA hulpdoelverdediger) en Stella Oyella van Uganda rank albei vir die bal in Woensdag se netbalwedstryd in die Wêreldbeker-toernooi in Liverpool, Engeland. Die Proteas het met 67-40 geseëvier. Foto: Gallo Images | Reg Caldecott

Telkom, die borg van die Nasionale Liga, het Woensdagaand belowe ál 12 spelers in die SA groep sal R1 miljoen ryker wees as hulle die wêreldtrofee sou lig.

Die Proteas het na die halfeindronde deurgedring deurdat hulle hul vyfde oorwinning van die toernooi behaal het met ’n sege van 67-40 oor Uganda.

Cecilia Molokwane, president van Netbal Suid-Afrika (NSA), sê in ’n verklaring dié bonus is benewens die salaris wat hulle ná die toernooi sou ontvang.

Telkom sê ’n silwermedalje sal elkeen R500 000 in die sak bring.

Suid-Afrika sal in Saterdag se halfeindronde teen Nieu-Seeland of Australië te staan kom.

Brett Botton, besturende direkteur van die Spar-groep, het op die Proteas se afskeidspartytjie gesê die Proteas sal R1 miljoen kry sou hulle wen, R750 000 vir silwer en R500 000 vir brons.

Die supermarkgroep is NSA se hoofborg.

Molokwane sê dit is die eerste keer dat netbalspelers in Suid-Afrika soveel sal verdien.

“Die sport groei beslis in ons land. Ons sien al meer spelers en meer belangstelling in die sport. Met die onlangse Telkom- Nasionale Liga het meer spelers as tevore geld verdien en meer borge het na vore getree.

“Ons kan maklik teen die einde van die week 12 miljoenêrs hê. Dink net hoeveel lewens ons kan verander en die invloed wat dit sal hê,” sê Molokwane.

“Ek glo die span verdien al die goeie dinge wat nou na hul kant kom. Norma (Plummer) en haar afrigtingspan het baie goed gevaar om ons die span te gee wat ons vandag het. Dit is net reg dat ons hulle dienooreenkomstig vergoed,” sê Molokwane.

Die Proteas speel Donderdag om 21:00 teen Engeland. Saterdag se halfeindstryde is om 12:15 en 16:00.

Die eindstryd is Sondag om 17:45 (SA tye).

* Suid-Afrika se beste vorige posisie in ’n WB-toernooi was ’n silwermedalje in 1995 in Birmingham, Engeland.

* In 1967 se toernooi toe Suid-Afrika gesamentlik tweede geëindig het, was daar net agt spanne wat almal teen mekaar gespeel het. Daar was nie uitkloprondes nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.