Dit was so hittete of Romain Grosjean het nie Sondag in Bahrein uit ’n vlammehel ontsnap nie nadat sy Formule Een-renmotor – ná ’n ongeluk in die openingsrondte van die Grand Prix daar – aan die brand geslaan het.

’n Skermgreep van die dramatiese oomblikke toe Romain uit die brandende wrak van sy renmotor bevry is in Bahrein. Foto: Getty Images
Ian Roberts, ’n lid van F1 se mediese span, sê daar was die kleinste geleentheid om die Fransman te hulp te snel voordat die vlammebol hom heeltemal sou verswelg.
Grosjean se Haas-renmotor het kort ná die wegspring kontak gemaak met Daniil Kvyat se Alpha Tauri. Dit het toe ’n veiligheidsreling getref, in twee geskeur en oombliklik aan die brand geslaan.
“Dit het soos ’n oond gelyk,” sê Roberts, wat met ’n oop valhelm na die vlammebol gehardloop het.“Die vlamme was rooi en jy kon sien hoe hy (Grosjean) homself uit die kar probeer loswikkel en geleidelik verder en verder uitkom.”
Roberts, koördineerder van F1 se mediese reddingspan, die Suid-Afrikaner Alan van der Merwe (wat die mediese motor bestuur) en brandbestryders was eerste op die toneel en word as helde beskou nadat hulle hul eie lewe in gevaar gestel het om Grosjean uit sy brandende wrak te help kry.
Roberts erken hulle sou die 34-jarige Grosjean nie uit sy renmotor kon bevry het as hy nie self in staat was om hom los te wikkel nie.
Roberts, wat soos die renjaers ’n brandwerende oorpak dra, het geskerts dat die brand hom ’n bietjie met sy “tan” gehelp het, maar dat hy andersins ongedeerd was.

Die F1- mediese beampte Ian Roberts sê dit was soos ’n bakoond toe hy Romain Grosjean te hulp gesnel het. Foto: AP
Hy sê sy eerste prioriteit was om seker te maak dat Grosjean geen ernstige beserings opdoen nie.
Die Fransman was oornag in ’n hospitaal waar hy vir brandwonde aan sy hande behandel is, maar het andersins nie sleg seergekry nie.
Grosjean het in ’n video uit sy hospitaalbed gesê die sogenaamde “halo”-beskermingstelsel in F1-motors, wat hulle teen kop- en nekbeserings help beskerm, het ook gehelp om sy lewe te red.Lewis Hamilton (Mercedes), wat die ren gewen het, het Sondagaand gesê dit was skokkend om die beelde en kykweers van die ongeluk gedurende die lang onderbreking dop te hou.
“Dit kon soveel erger gewees het en dit wys net watter goeie werk die FIA (die sport se beheerliggaam) doen.”
Die Australiese renjaer Daniel Ricciardo (Renault) sê egter F1 behoort hom te skaam oor die “Hollywood-agtige” wyse waarop hy oor en oor beeldmateriaal van die ongeluk vertoon het gedurende die lang onderbreking.
“En asof dit nie genoeg was nie, het hulle ook beeldmateriaal van die kamera wat in sy motor gemonteer is, gewys. Hoekom moes ons daarna kyk? Ons moes ’n uur later weer gaan deelneem. Sy familie moes aanhoudend daarna kyk. Dis rêrig onregverdig,” het hy uitgevaar. – Reuters, BBC Sport